Dit is veral nou, met die nypende wintermaande, dat hierdie mense voel asof hul klagtes op dowe ore val.
Me. Bettie Arendse (61) ontvang ongeskiktheidspensioen wat sy bereken op sowat R1080 per maand. Haar man, Dawid Arendse (63), ontvang ook `n toelaag.
Tussendeur verdien hy ook `n geldjie deur in tuine te werk. Sy, haar man en vier kinders, slaap snags in een kamer. Dit omdat die ander vertrekke nie meer genoeg beskutting bied nie. Hulle het sowat vyf jaar gelede hier ingetrek. Ongeveer `n jaar nadat hul intrek het, het die probleme begin. Oneweredige dakplate, of dakplate wat geskuif het, bied min skuiling teen wind en weer.
"Die huise is op sand gebou," is me. Arendse se mening. Dik krake loop met die mure langs, met hompe sement wat op plekke eenvoudig weggekalwe het. Sy vertel dat sy die afgelope drie jaar sowat vier keer by behuising was om haar klagtes met hulle te deel. "Die mense kom nooit uit nie," vertel sy.
Oorkant woon Slomon Mbaba (56) en sy seun, Mzwanele Mbaba (22). Solomon is blind en aan sy bed gekluister weens verlamming. Mzwanele vertel dat hy tans `n gasvryheidskursus by die plaaslike kollege neem. Sy pa ontvang `n maandelikse toelaag.
Hulle het `n kas teen die kombuismuur staangemaak om die swak bouwerk te verbloem. Die muur wat `n slaapkamer van die kombuis skei is besig om mee te gee.
As gevolg daarvan is die dak ook nie meer stabiel nie. Plastiekhouers is bo-op die kas om reënwater op te vang. Mzwanele vertel dat sy pa sowat vyf jaar gelede hierheen verskuif is. "Hy moet in `n rolstoel beweeg en hier kan hy nie uit die huis kom nie," vertel die jong man. Hul huis is teen `n steilte geleë en dit is moeilik om te sien hoe `n rolstoel oor die oneweredige grond moet navigeer. "Die arme oupa is blind," vertel Arendse. "Hy kan nêrens heen nie. Ons moet almal nuwe huise kry."
By navraag het amptenare van die department behuising, geleë in Arnold de Jager Rylaan, Oudtshoorn, bevestig dat daar probleme is met die huise in Thabo Mbeki Plein. Volgens hulle is afskeepwerk gedoen en die munisipaliteit moet nou die brouwerk herstel. Daar is blykbaar op nasionale vlak fondse aan munisipaliteite beskikbaar gestel hiervoor. `n Formele opname van al die gebreke aan huise gaan glo binnekort gedoen word. Inwoners wat soortgelyke probleme met munisipale wonings ervaar word aange-raai om sulke gevalle by die departement aan te meld.

Mzwanele Mbaba (22) by sy pa Solomon Mbaba (56) wat in die bed lê.
ARTIKEL EN FOTO'S: JACQUES SWART, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS