PRINS ALBERT NUUS - Die laerskoolmeisie van Prins Albert, wat na bewering deur haar oupa verkrag is, is een van twee agtjariges van die dorp wie se naasbestaandes die afgelope week in die landdroshof op dié aanklag verskyn het.
Terwyl die 56-jarige oupa Dinsdag vir die derde keer in die beskuldigdebank gestaan het, nadat hy op 17 Februarie op dié klag in hegtenis geneem is, het 'n 19-jarige man verlede week ook verskyn omdat hy glo sy sussie verkrag het.
Albei mans word in die Prins Albert-gevangenis aangehou terwyl die polisieondersoeke voortduur. 'n Onderwyser het die twee gevalle, in een jaargroep in een skool, bevestig.
Die oupa, wat gearresteer is nadat sy kleindogter mediese ondersoek is, sou Dinsdag formeel om borgtog aansoek doen, maar dit is uitgestel omdat 'n DNS-verslag nog uitstaande is, het die staatsaanklaer, Marvon de Vos, gesê.
Landdros Winegard van Kaapstad, wat voorgesit het, het die saak tot 2 April uitgestel. Verlede week het Wentzel Botha, 'n prokureur van Regshulp SA, die man gewaarsku dat hy op 'n Bylaag 5-oortreding verskyn, maar dat dit sy reg is om aansoek om borgtog te doen. Borgtog word slegs in uitsonderlike gevalle toegestaan aan oortreders wie se beweerde dade in dié kategorie val.
Die meisie se ouers was gister in die hof, en het aan Oudtshoorn Courant gesê dit gaan onder omstandighede goed, ook met hul kind. Sy is terug skool toe. Hulle wou geen verdere kommentaar lewer nie. Die oupa het uit die beskuldigdebank met die egpaar kontak probeer maak.
De Vos het by navraag bevestig dat die 19-jarige op dieselfde aanklag in hegtenis geneem is en dat hy in aanhouding is.
Ontstelde onderwysers en ander inwoners van Prins Albert het verlede week voor die hof saamgedrom en hul stem laat hoor oor dié beweerde misdrywe. 'n Onderwysers het gesê sy kan nie glo dat een van die ma's van die beweerde slagoffers aan haar gesê het die hof "sal maar moet wys" of haar kind die waarheid gepraat het.
Brian Carelse van Regshulp SA het vandeesweek die oupa verteenwoordig.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'