OUDTSHOORN NUUS - 'n Groep liefhebbers van klassieke musiek en belangstellendes het verlede Donderdagaand aan 'n informele gesprek oor die Klein Karoo Klassique deelgeneem. Kunste Onbeperk, die maatskappy wat die KKK en die KKNK aanbied, het inwoners genooi om insette te lewer oor die aanbied van die fees.
Vanjaar se Klein Karoo Klassique begin Donderdagaand 8 Augustus en duur tot Sondag 11 Augustus en sluit nege hoofopvoerings in.
Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk het kortliks oor die samestelling van die program en die keuse van die lokaal gesels. Hy het ondermeer daarna verwys dat daar 'n kerngroep feesgangers is wat jaarliks die fees bywoon, maar dat daar ook na maniere gekyk moet word om die fees te laat groei. Bernard le Roux van Dryland Event Management, wat by die logistieke reëlings van die KKK en KKNK betrokke is, het mense genooi het om insette te lewer.
Volgens sommige is daar 'n behoefte dat ligte klassieke musiek deel van die program moet wees terwyl ander weer gevoel het dit is een van slegs enkele feeste in die land wat op suiwer klassieke musiek fokus. Daar was ook 'n beroep van Paul Amas dat plaaslike klassieke musikante meer geleentheid gegun moet word om aan die fees deel te neem.
Ander voorstelle was onder andere dat die program 'n wyer verskeidenheid musiek in die klassieke genre moet insluit om sodoende die fees te laat groei, dat daar na meer as een venue gekyk word en dar restaurante geleentheid gegun moet word om aan die fees deel te neem met aanbiedinge van ligter musiek.
Le Roux en Theart het gesê dat voorstelle van mense in ag geneem sal word met die finale reëlings en dat dit vir hulle belangrik is dat inwoners deelneem aan gesprekke oor die Klassique sowel as die KKNK aangesien die feeste die hele gemeenskap van Oudtshoorn beïnvloed.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'