OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Bridgton op Oudtshoorn wat by sy broer se huis ingebreek het, is in die Oudtshoorn-streekhof aan huisbraak met die opset om te steel skuldig bevind en vyf jaar gevangenisstraf opgelê.
Denzil Boesak (29) het skuldig gepleit op die aanklag dat hy op 18 Desember 2019 by die kamervenster van sy broer, Maxwell Boesak, ingeklim het terwyl sy broer-hulle geslaap het.
Hy het erken dat hy op soek was na geld en terwyl hy daarmee besig was, het iemand in die huis wakker geword en hom erken.
Hy is toe weer deur die kamervenster en het op die vlug geslaan.
Hy het ook tereggestaan op aanklag van seksuele aanranding maar die klagte is deur die staat teruggetrek.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging in ag geneem dat Boesak skuldig gepleit het en nie hoftyd gemors het nie.
Hy het ook berou getoon vir wat hy gedoen het. Hy kan na die uitdiening van 'n sesde van sy vonnis, dit wil sê tien maande, om parool aansoek doen.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'