OUDTSHOORN NUUS - Die verdedigende kampioen, Firestones en Hungry Lions het Sondag deurgedring na die finale van die Oudtshoorn Premierliga vlakkiekrieketontwikkelingstoernooi.
Firestones het Prostars in sy halfeindstryd gemaklik met nege paaltjies geklop. Hulle moes 'n karige 88 lopies aanteken vir 'n oorwinning en het dit reeds in die 14de boulbeurt vermag met nege paaltjies nog staande.
In die wedstryd wat die Oudtshoorn Courant by die Toekomsrus-kliniek bygewoon het tussen Hungry Lions en Spartans, het die Hungry Lions in sy toegelate 20 boulbeurte 'n reuse telling van 171 lopies vir die verlies van ses paaltjies op die telbord geplaas.
Hungy Lions se aanvangskolwer, Eaj Caroo was sy span se groot held toe hy 'n onoorwonne 112 lopies gemoker het.
Spartans was in sy kolfbeurt reeds in die 10de boulbeurt vir 'n skamele 53 lopies uitgehaal wat aan Hungry Lions 'n oortuigende oorwinning van 118 lopies besorg het.
Tyrese Carelse, snelbouler van Hungry Lions, het die meeste skade met die bal aangerig en het vier paaltjies plat getrek.
Hungry Lions pak dus Firestones in die eindstryd van dié toernooi.
Hierdie wedstryd vind eerskomende Sondag om 14:00 by die oop stuk veld langs die Bridgton-kliniek plaas.
Lees 'n verwante artikel: Kwarteindstryde van vlakkiekriekettoernooi beslis
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'