OUDTSHOORN KRIEKETNUUS - Die Oudtshoorn Premierliga vlakkiekrieket-ontwikkelingstoernooi se kwarteindrondes het die naweek afgeskop na ses weke se rondomtalie wedstryde waarin 12 plaaslike spanne deelgeneem het.
Die verdedigende kampioene Firestones, Prostars, Hungry Lions en Spartans was die spanne wat die naweek na die halfeindstryde van dié toernooi deurgedring het.
In die wedstryd wat die Oudtshoorn Courant Sondag bygewoon het tussen die Prostars en die Underdogs het die Prostars met 44 lopies geseëvier.
Die Underdogs het die loot gewen en besluit om eerste veldwerk te doen. In hul toegelate 20 boulbeurte kom die Prostars daarin slaag om 110 lopies vir die verlies van nege paaltjies op die telbord te plaas.
Vir Prostars het Elrico Manual met sy 34 lopies die beste met die kolf gevaar terwyl James Bruiners van die Underdogs vier paaltjies laat kantel het. Die Underdogs is in hul kolfbeurt vir slegs 66 lopies in die laaste boulbeurt van die wedstryd uitgeboender.
Elrico Manual van die Prostarsspan is vir sy veelsydige vertoning (34 lopies en 2 paaltjies) aangewys as speler van die wedstryd.
Albei halfeindstryde vind die eerskomende Sondag om 14:00 plaas. Die Firestones pak die Prostars in Dassieweg, terwyl die Hungry Lions en Spartans by die Toekomsrus-kliniek sake sal uitspook vir 'n plek in die finale.
Aksie tussen die Prostars en Underdogs vlakkiekrieketspan. Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'