AMALIENSTEIN NUUS - Hulde is Saterdag 12 Junie aan Khoisan-stamhoof, Ockert Lewies, gebring. Hy het sy reis op aarde op Woensdag 2 Junie voltooi toe hy in die Alan Blyth-hospitaal in Ladismith oorlede is. Hy het 'n kankerstryd verloor en sou in September 67 jaar oud geword het.
Verskeie sprekers het in die Lutherse Kerk op Amaliënstein aan hom hulde gebring.
Jeffrey Donson, voormalige burgemeester van Kannaland, het gesê “Oom Ockie” was 'n toegewyde lid van die gemeenskap en het mense telkens met sy wysheid verbaas.
'n Familiewoordvoerder, Randall Fourie, het genoem dat Lewies 'n kampvegter vir sy volk as eerste nasie aan die Suidpunt van Afrika was. “My oom het 'n voorliefde vir draf gehad, want dit is wat sy voorvaders gedoen het wanneer hulle sou jag. Daarom het Ockert Lewies die bynaam, Geel Luiperd van die Rooi Duine, gekry,” het Fourie onder luide applous gesê.
Daar is ook deur sprekers genoem dat Lewies groot aansien in regeringskringe geniet het en selfs die Khoi se saak oorsee gaan stel het.
Rudine February, dogter van die ontslapene, het haar vader as 'n vredeliewende, en regverdige man beskryf. Die mantel van hoofman Ockert Lewies val nou om Rudine se seun, Shane February. Hy is by die graf as nuwe hoofman gekroon toe Lewies se tradisionele drag aan hom oorhandig is.
Shane February (sittend, kleinseun van Ockert Lewies, is Saterdag as nuwe stamhoof ingehuldig.
'n Lofpryser voor die groep wat Ockert Lewies se oorskot na die kerk gedra het.
'Ons bring jou die nuutste Amalienstein, Klein Karoo nuus'