OUDTSHOORN NUUS - 'n Vrou van Oudtshoorn, wat haar werkgewer se ringe gesteel en aan diefstal skuldig bevind is, is in die streekhof gevangenisstraf van vier jaar opgelê omdat direkte gevangenisstraf die enigste gepaste vonnis is.
Elizabeth Kawa (51) is daarvan aangekla dat sy 15 ringe van sowat R90 000 van haar werkgewer, Susan Barnard, gesteel het.
Sy het aanvanklik net skuldig gepleit dat sy twee ringe gesteel het, maar later ook vir diefstal van 'n derde ring na bewyse dat sy dit aan Cash Crusaders verkoop het. Slegs laasgenoemde ring wat sy vir R2 000 verkoop het, is teruggevind.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof versoek om 'n vonnis op te lê wat 'n duidelike boodskap uitstuur vir voornemende diewe.
Streeklanddros Ntsoki Moni het met vonnisoplegging gesê Kawa was in 'n vertrouensposisie wat sy misbruik het.
Volgens die landdros toon sy geen berou nie en het sy net dinge erken waarvan bewyse voor die hof gebring is.
Sy het nie verantwoordelikheid geneem vir wat sy gedoen het nie en omdat sy 'n vrou is kan sy nie verwag dat die hof sag met haar moet wees nie.
Die klaer het haar deel van die huisgesin gemaak en haar ook vertrou met die sleutels van die privaate deel van die woning.
Die landdros het bygevoeg dat, hoewel die belange van die slagoffer en die gemeenskap in ag geneem word, die beskuldigde nie op die altaar van afskrikking geplaas moet word nie.
'n Opgeskorte vonnis of korrektiewe toesig sal ook nie gepaste vonnisse wees vir die misdaad wat die beskuldigde gepleeg het nie.
Die hof is van mening dat sy baie meer baat sal vind by direkte gevangenisstraf omdat programme en kursusse deur die department korrektiewe dienste aangebied word vir rehabilitasie en hervorming.
"Die gemeenskap sien opgeskorte vonnisse as net 'n tik op die hande," het die landdros gesê.
Kawa is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'