OUDTSHOORN NUUS - 'n 19-jarige man wat geslagsgemeenskap met 'n 15-jarige meisie gehad het, is in die streekhof aan statutêre verkragting skuldig bevind en vir drie jaar onder huisarres geplaas.
Streeklanddros Daniel Boks het met die vonnisoplegging van Romano Oosthuizen benadruk dat niemand volgens wet seks met 'n kind onder die ouderdom van 16 jaar mag hê nie.
Oosthuizen het skuldig gepleit en getuig dat die klaer op seks aangedring het terwyl hulle in 'n verhouding was.
Die hof het dit as 'n mate van berou aanvaar.
Volgens Boks is dit kommerwekkend dat die misdaad so algemeen voorkom,
"Vonnisse moet opgelê word wat as afskrikking moet dien anders kan die howe maar toemaak," het hy gesê.
Oosthuizen is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis wat in geheel voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is, asook drie jaar korrektiewe toesig wat behels huisarres vir 24 uur per dag vir die volle drie jaar, uitgesluit werk- en kerkdoeleindes.
Sy naam moet ook in die nasionale register vir seksoortreders aangeteken word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'