OUDTSHOORN NUUS - Anna-Mart Schutte, hoofdogter van Langenhoven Gimnasium, is oortuig dat dit slegs haar vriend se kalmte was wat gekeer het dat hulle die slagoffers van 'n kaping was. Sy het hierdie week hulle nagmerrie-ondervinding tydens haar vakansie in Pretoria met die Oudtshoorn Courant gedeel.
Volgens Anna-Mart het sy haar verjaarsdag saam met haar vriend, Gerhard de Bruyn, en sy gesin in Pretoria deurgebring. Sy en Gerhard, 'n student, was Vrydag 6 Julie by 'n gewilde studentekuierplek in Centurion.
"Ons was net voor middernag op pad na Gerhard se kar toe twee swart mans langs ons inval en iets vra. Gerhard het vir my die deur oopgemaak en my baadjie het op die grond geval toe ek wou inklim. Die volgende oomblik het die een man 'n pistool teen Gerhard se kop gedruk en die ander een het my in die motor ingestamp en 'n pistool in my sy gedruk."
Sy vertel dat die skok verlammend was en dat die mans op geld aangedring het. "Ek het skielik besef wat aangaan en kon dit nie glo nie. Ons het dadelik gesê hulle moet vat wat hulle wil hê, ons sal hulle nie keer nie."
Sy sê terwyl die een man haar selfoon gevat het en in die motor rondgekrap het vir nog goed het sy yskoud geword toe die ander man die sleutels by Gerhard gryp en hom beveel om in motor se kattebak in te klim.
"Gelukkig het Gerhard kop gehou en geweier om in die kattebak in te klim, want hy het later vir my gesê hy het geweet as hy in die kattebak is, sal hulle met ons wegjaag en dan is ek alleen in die kar saam met hulle."
Volgens haar het Gerhard in stede van in die kattebak te klim, vinnig na die bestuurders se regterdeur beweeg en vir die man gesê sy geld is in die kar. Hy het al die geld wat hy in die beursie gehad het uitgehaal en vir die man gegee en die beursie in die motor ingegooi. Anna-Mart sê die voorval het reg voor 'n woonstelblok gebeur en verskeie karre het by hulle verbygery terwyl hulle beroof is.
"Niemand het kom help nie en ek het besef ek moet aandag trek en het aanhoudend begin gil. 'n Vrou het op 'n woonstelbalkon uitgekom en geskreeu dat sy die polisie gebel het."
Die rowers het toe op die vlug geslaan en 'n ent verder in 'n wagtende motor ingespring en weggejaag. Gerhard het voor 'n aankomende motor ingehardloop om hulp te kry en toe 'n geleende selfoon gebruik om sy pa te bel. Volgens Anna-Mart was die polisie baie gou op die toneel en Gerhard se pa het kort daarna ook opgedaag.
"'n Mens dink nooit dat so iets met jou kan gebeur nie, maar dit kan. My raad aan almal is dat mens bewus moet wees van wat om jou aangaan. Ons het die mans glad nie eens opgemerk totdat hulle by ons was nie."
Sy sê die skok was só groot dat sy glad nie aan een Engelse woord kon dink toe sy na die voorval in 'n polisiestasie 'n verklaring moes gee nie. "My Engels is goed, maar toe die polisievrou vir my sê ek moet my verklaring in Engels gee kon ek nie een woord uitkry nie. Ek dink die skok van wat gebeur het, het toe eers ingesink."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'