OUDTSHOORN NUUS - Verskeie honde en hanteerders het die afgelope naweek na Oudtshoorn gereis om aan die hondeskou, wat deur die George- en Outeniqua-hondeklubs aangebied word, deel te neem.
Die geleentheid het 'n verskeidenheid honde van alle groottes en rasse ten toon gestel. Deelnemers het meegeding in kategorieë soos beste ras, gehoorsaamheid en behendigheid. Die beoordelaars het die honde geëvalueer op grond van onder andere hul voorkoms, gedrag en vaardighede. Jeané Murray, een van die organiseerders van die skou, sê die skou is goed bygewoon en kan as 'n sukses beskou word.
"Volgende jaar se skou word nie in Oudtshoorn gehou nie, maar 2026 beplan ons iets spesiaal vir die kinders. Ons beoog om meer fokus te plaas op kinderhanteerders en wil hulle help om te kwalifiseer en opgelei te word. Daar is soveel wat hulle in die skouwêreld kan bereik en hulle kan selfs oorsee gaan deelneem," vertel sy.
Lea Olivier Foto verskaf
Een van die hoogtepunte van die skou was die deelname van Echo, die Dutch Shorthair Pointer, wat vroeër die jaar deel was van die redding van tientalle werkers wat onder die puin in die Victoriastraat-bouramp in George vasgekeer was. Daar is 'n oomblik afgestaan om waardering teenoor Echo se werk op die toneel uit te spreek. Sy en haar hanteerder, Mariaan Wilson, het die werkhondkategorie gewen.
Jeané Murray en Holly. Foto: Liezl van Niekerk
Van die plaaslike hanteerders wat toekennings ontvang het was Lea Olivier, Lorish Olivier se dogter, wat aangewys was as beste junior hanteerder. Murray, van George, se wit Swiss-herdershond het 'n toekenning in die best of breedkategorie gekry en ook 'n vierde plek in die herdershond-kategorie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’