OUDTSHOORN NUUS - Die nasionale Kusa-hondeskou (Kennel Union of Southern Africa) vind die komende naweek vanaf 14 tot 16 Junie op Hoërskool Oudtshoorn se terrein plaas.
Jeané Murray, van die George en Outeniqua-hondeklub, sê enigiemand is welkom om te kom besigtig vanaf Vrydag 08:30 tot Sondag.
"Toeskouers moet net bewus wees dat daar honde op die perseel gaan wees en dat toegang op eie risiko is. Toeskouers word ook gevra om nie hul eie honde na die skou te neem nie," het sy verduidelik.
Volgens haar sal daar vanjaar ongeveer 270 inskrywings aan die skou deelneem en deelnemers van oor die land gaan aan die skou deelneem.
"Daar gaan so baie verskillende rasse wees wat wissel van rottweilers, Duitse herdershonde, bulhonde, pommere en soveel meer. Daar gaan ook verskeie kosstalletjies wees."
Murray sê dit is vir hulle belangrik dat mense moet weet dat die skoue nie gaan oor die teel van honde nie, maar oor die liefde van honderasse.
"Die mense doen dit uit die liefde en passie vir die dier en wat die telings suiwer probeer hou. Die honde se teelstandaard word tydens die skou beoordeel. Dit hang af van die ras van die hond, maar daar is 'n sekere standaard waaraan elke ras moet voldoen. Dit is 'n raskampioenskou."
Die jaar se beoordelaars is Melanie Nicolau en Johnny de Abreu Marques, beide vir die George-hondeklub.
Martina le Roux-Cloete, Monika Halmi, Nikki Redtenbacher en Jetty Botes-Erasmus vir die George- en Outeniqua hondeklub en Lidija Oklescen van Slovenia en Natasha Baxter vir die Outeniqua-hondeklub.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’