OUDTSHOORN NUUS - Sedert die gevreesde hondesiekte, ook bekend as canine distemper, verlede jaar November in Oudtshoorn uitgebreek het, is minstens 300 honde reeds uitgesit.
Volgens Colleen Smith, stigter van Oudtshoorn Dogs in Need, is dié getal baie hoër, as die gevalle waar honde weens die siekte dood is, bygetel word.
Sy sê hulle besoek bykans elke dag 'n ander deel van Oudtshoorn om mense in te lig oor die dodelike siekte.
"Ons gaan letterlik van deur tot deur praat met mense. Ons vertel hulle wat die siekte is en wat dit aan diere doen.
"As ons op honde afkom wat reeds canine distemper het moet ons hulle ongelukkig uitsit.
"Wat ons wel opgemerk het is dat die honde wat in 'n erf woon en nie rondloop nie heeltemal gesond is. Dit is die rondlopertjies wat die siekte het en dan so ook aan ander oordra."
Volgens haar is die siekte nie aansteeklik vir mense nie en is dit 'n virus wat deur die lug van hond na hond oorgedra word.
"Die honde steek aan wanneer hulle hul neuse teen mekaar vryf of hoes of nies op mekaar. Dit steek selfs deur hul urine en ontlasting aan."
Smith sê honde wat reeds die siekte onder lede het, kan nie gered word nie.
"Die honde moet as babahondjies van tussen nege en 12 weke oud ingeënt word. Die honde wat nie inentings gekry het nie en nie siek is nie kan 'n jaarlikse booster by die veeartse kry."
Magda Davel, skutmeester van die diereskut, met 'n hons wat hondesiekte opgedoen het.
Volgens haar is dit ook moeilik om aan die beginstadium van die siekte tussen sogenaamde "kennel cough" en canine distemper te onderskei.
"Dit is soortgelyk aan griep by mense. Hulle hoes bietjie aan die begin. Later begin hulle oë te dra en daar is ook 'n groenerige uitskeiding by hul neuse."
Alhoewel hondesiekte meestal by jong hondjies van tussen 3 en 6 maande voorkom kan dit ook by ouer diere voorkom.
Volgens 'n veearts, dr. Karlien Botha, word die siekte deur die Paramyxovirus wat hoogs aansteeklik is, veroorsaak.
Die virus word deur die lug versprei en word gewoonlik deur direkte kontak met besmette diere versprei.
Sy sê die virus kan redelik maklik doodgemaak word voordat dit honde besmet as honde se slaap- en woonareas gereeld met betroubare skoonmaakmiddels skoon gehou word.
Sy sê alhoewel die siekte dodelik is vir honde word katte glad nie daardeur aangetas nie en hulle kan ook nie die siekte oordra nie.
Een van die simtome van Distemper is slym by honde se snoete en oë wat dra.
Botha sê honde-eienaars moet bedag wees op die volgende kliniese simptome:
- Ongeveer 7 tot 14 dae na blootstelling aan die virus ervaar die hond verhoogde koors en lusteloosheid.
- Die oë en neus dra dik slym.
- Die hond hoes, gooi op en kry loopmaag.
- Verder ontwikkel die hond brein letsels en onwillekeurige spiersametrekkings van die kopspiere, wat bekend staan as 'chewing gum fits' wat baie gou deur die dood gevolg word.
"Die siekte kan voorkom word deur elke klein hondjie op 6, 12 en 16 weke in te ent en dit daarna jaarliks te herhaal. Die entstof is baie effektief en gewoonlik is honde veilig wat op datum entstof ontvang het."
Smith sê sy is regtig dankbaar vir haar span by Oudtshoorn Dogs in Need, die dorp se veeartse en die staatsveeartse wat hul tyd en energie insit om die mense oor die siekte in te lig.
"Dit vat baie tyd en dit breek jou hart om die diere so siek te sien, maar die mense werk sonder opgee sodat die diere gered kan word."
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'