Klagtes word gereeld ontvang oor mense wat in Hoogstraat diens verrig.
Dit blyk dat die teenwoordigheid van hierdie 'wagte' ook onlangs op weerskante van die kruising by Baron van Reede- en Kerkstraat toegeneem het. Toe die Oudtshoorn Courant verlede week, Woensdag foto's van die persone geneem het, was daar agt mans, elk in die bekende vuil, geel, sonverbleikte baadjies. Dit in `n betreklike kort afstand. Met die kamera in hul rigting het sommige hul gesigte weggesteek terwyl ander aggressief voorgekom het.
Dit blyk dat een van die mans, wat reeds `n geruime tyd as motorwag werksaam is, sedertdien sy vaardighede as entrepreneur ontwikkel het. Hy het glo `n groep van soveel as ses jeugdiges in sy diens wat namens hom parkeerplekke aanwys en ook motors in parkeerplekke of op `n aangrensende oop stuk grond was.
Muntstukke is ook nie meer genoeg nie. Nadat foto's van die groep geneem is, het een van die jeugdiges die joernalis genader en daarop aangedring dat hy R10 betaal word "omdat sy foto in die koerant gebruik gaan word." Op `n voorstel dat hy eerder die fotograaf moet betaal omdat die fotograaf die werk gedoen het, het die jong man bloot sy versoek herhaal. Die jong man het wel te kenne gegee dat hulle dikwels van misdade beskuldig word en het gelag toe hy gevra word of hy dan onskuldig is.
Een van die besigheidseienaars het die week sy vermoede uitgespreek dat die teenwoordigheid van hierdie 'wagte' direk verbind kan word met die toename in misdade in dieselfde omgewing. Misdade wat onlangs hier aangemeld is, sluit `n geval van gewa-pende roof in. Daar is ook hierdie week kommer uitgespreek dat die 'wagte' mense op straat lastig val en besighede sodoende skade berokken.
Intussen blyk dit ook dat besighede magteloos is om enigiets aan die situasie op hul voorstoep te doen. Een besigheidseie-naar het die afgelope week self probeer om die wagte te verjaag waarna hy gedreig is, terwyl `n ander vertel dat hy self die hoof van verkeer geskakel het en dat daar aan hom belowe is dat personeel uitgestuur sou word om na die probleem om te sien. Niemand het egter opgedaag nie.
Die woordvoerder van Oudtshoorn-polisie, kapt. Louis Visser, het in antwoord op `n navraag daarop gewys dat die teenwoordigheid van motorwagte onder munisipale regulasies val. Volgens Visser ontvang die polisie van tyd tot klagtes oor die wagte, maar geen motorwagte word tans vir enige misdaad ondersoek nie.
`Navrae aan die plaaslike munisipaliteit, verlede week asook die week, is nie beantwoord nie.
Munisipale wetstoepassers is egter meer gereeld in die strate teenwoordig.
Hierdie groep is glo ook bereid om motors te was teen vergoeding.
ARTIKEL: JACQUES SWART, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'