OUDTSHOORN NUUS - Lede van die publiek vra gereeld vrae oor waterpype wat bars. Die meeste van Oudtshoorn, De Rust en Dysselsdorp se waterpype is asbes wat reeds dekades oud is en stelselmatig vervang word.
Hier is die statisiek van Groter Oudtshoorn se pyplydings.
Pype wat water aan die landelike waterskema voorsien, is altesaam 340km lank en hooftoevoerlyne wat water vanaf bronne vervoer is 70 km.
Die drie dorpe se pyplydings is as volg: Oudtshoorn - 240km waarvan 200km nog asbespype is. Dysselsdorp het 28 km pype waarvan 23 km asbes is en van De Rust se 11 km is 8km nog asbes.
Dit beteken Oudtshoorn se waterpype is saam 689km lank. As die pype padlangs in een lyn gelê word sal die lyn vanaf Oudtshoorn tot 59 km voor Bloemfontein strek.
Die pypleiding wat water vanaf Blossoms bring sal met voltooiing 22 km lank wees, waarvan 17km reeds voltooi is.
Vragmotors wat water aanry na areas waar daar nie lopende water is nie, lê tans ongeveer 1 800 kilometer per week af.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'