Gallery
OUDTSHOORN NUUS - "Van kindsbeen af het ek altyd my pa dopgehou hoe hy met die grootste ywer en sorg sy eie tuin verfraai het; so dis veilig om te sê dat hy my belangstelling en liefde vir tuinmaak geprikkel het," vertel Henry Ewerts.
Ewerts, ook bekend in die gemeenskap as Hentie, sê dat hy by al sy huise oor die jare altyd all out gegaan het deur soveel as moontlik bome, struike en blommetjies te plant.
FOTOGALERY: Mooiste tuin in Oudtshoorn
"Behalwe dat 'n mooi tuin 'n plesier vir die oog is, verskaf dit ook inherente vreugde en satisfaksie; om nie te praat van die terapeutiese invloed wat dit op 'n mens het nie. My gunsteling tyd om my tuin te versorg was altyd Saterdae wanneer ek gewoonlik af was."
Hentie sê dat hy 'n paar jaar gelede weens ouderdom besluit het om af te skaal van die konvensionele manier van tuinmaak.
"Omdat dit deesdae so moeilik is om betroubare manne te kry wat in jou tuin kan werk en ek nie alles self meer kan doen nie het ek besluit om na maniere te kyk hoe ek steeds ons tuin mooi kan hou, minus die arbeid. Ek het toe besluit om vir my pragtige bakke, plaveisel, blompotte, duiwehok, posbus, fontein en versieringselemente van sement aan te koop wat ek spierwit geverf het omdat dit my gunsteling kleur is.
"In die plek van die gras, het ek klippies aangebring, en nou trek ek net nou en dan die onkruid uit terwyl ek die plante in my bakke natmaak, en siedaar!... netjies soos altyd," vertel Ewerts trots.
Soos altyd is Ewerts tans druk besig om sy tuin weer op te knap sodat dit op sy allermooiste kan wees vir Kersfees en Nuwejaar.
Sy raad aan tuiniers is:
- Identifiseer temas vir jou tuin wat jou pas, omdat die onderhoud daarvan dan ook makliker sal wees.
- As jy nie 'n globale bedrag het om alles op een slag aan te koop nie, spaar geduldig en koop stuk-stuk aan. Jy sal sien dat jy mettertyd nuwe idees kry wat aanvullend tot jou oorspronklike konsep is.
- Belê in goeie tuingereedskap soos byvoorbeeld 'n betroubare grassnyer of soos ek wat 'n ordentlike tuinblaser aangeskaf het. Onthou die doel is 'n pragtuin met die minimum onderhoud.
- Hou jou hand gedurig op jou tuin en moenie toelaat dat onkruid hand uitruk nie, anders is dit te veel werk en dan moet jy iemand huur om te kom help. Dis geld wat jy kon gebruik het vir nuwe items vir jou tuin.
Ewerts se stoep is ook verfraai en netjies geteel.
Posbus in die vorm van 'n jong seun. Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'