OUDTSHOORN NUUS - Huisbrake, rowe en algemene misdaad is tans 'n erge kopseer vir Oudtshoorn-polisie, asook die Oudtshoorn-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) met al hoe meer voorvalle, veral in Hoog-, St. Savior-, Adderley- en Kerkstraat waar algemene diefstal en rowe meer gereeld voorkom.
Inwoners word gemaan om veral op Vrydae en oor naweke bedag te wees op veiligheid in die strate.
Die volgende wenke is deurgegee:
• Die meeste inbrekers verkry toegang deur vensters.
• Moenie jou huis/besigheid se vensters ooplos as jy uitgaan nie, en maak seker die vensters se knip is reg toe.
• Diefwering en alarms is die grootste afskrikmiddel en sal die risiko van 'n inbraak verminder.
• Huisbrake vind nie net in die nag plaas nie. Sorg dat vensters toegemaak en deure gesluit word, al is jy by die huis.
• Moenie waardevolle items naby vensters los nie.
• Wees op die uitkyk vir vreemde persone in die omgewing en rapporteer dit aan die polisie.
• Goeie vriendskappe kan huisbrake verhoed, sê as jy weggaan of nie die nag by die huis is nie.
• Maak seker daar is niks wat rondlê soos bakstene, ysters of gereedskap wat die inbreker kan gebruik nie.
• Moenie waardevolle artikels in jou voertuig los nie, veral nie sigbaar nie.
• Selfone is 'n artikel wat baie gewild is onder diewe, moenie dit enige plek neersit nie.
• Laai eerder jou bagasie af by jou bestemming voor jy daarmee rondry en die risiko loop dat dit gesteel word.
• Moet onder geen omstandighede geld aan straatkinders, bedelaars of karwagte gee nie.
• Parkeer waar moontlik in parkeerterreine waar wettige motorwagte is.
• Waar jy jou bankkaart gebruik, moenie dit onder jou oë laat uitgaan nie. Daar kom gereeld voorvalle voor waar mense se kaarte gekloon word.
• Wanneer jy geld by die outomatiese bankteller trek, maak seker jy kry jou kaart terug uit die masjien en moenie geld trek as daar mense is wat jou wil help as die masjien nie reg werk nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’