OUDTSHOORN NUUS - Die Vriende van die CP Nel-museum nooi inwoners wat in geskiedenis en erfenis belangstel na ’n spesiale byeenkoms op Donderdag 11 September 17:30 vir 18:00 by die CP Nel-museum.
Christo Smit, voorsitter van die Vriende van die CP Nel-museum noem hierdie is die ideale geleentheid om meer inligting te bekom oor die museum, asook hoe om as lid aan te sluit.
“Inwoners wat in geskiedenis en erfenis belangstel word uitgenooi na ’n aand van gesellige samesyn, boeiende stories, asook ’n viering van ’n gedeelde kultuur en geskiedenis. Die geleentheid is oop vir die publiek. Toegang is R50 vir nie lede, persone is welkom om by die geleentheid aan te sluit as ‘Vriend van die Museum’ - die aansluitingsfooi is R50, wat dan gratis toegang tot die museum insluit, tot die einde Feb. 2026.”
Wie is die vriende?
Die Vriende van die CP Nel-museum is ’n groep vrywilligers wat stil-stil op die agtergrond ongelooflike werk by die CP Nel-museum en die Le Roux-huis in Hoogstraat doen, asook om die erfenis van Oudtshoorn te beskerm, te bewaar en te bemark.
Onder die inspirerende leiding van Carla Ferreira en haar span, tesame met die toegewyde vrywilligers van die vriende, is merkwaardige werk verrig om die erfenis van die CP Nel-museum te verryk.
Belangstellendes moet teen 8 September RSVP of vir meer inligting kontak Christo by 072 833 7723.
Die CP Nel-museum is in 1951 gestig en het in 1972 na sy huidige lokaal verhuis. Die museum huisves uitstallings wat die rol van die volstruisbedryf in die dorp se geskiedenis uitbeeld, asook die kulturele geskiedenis en leefwyse van die mense van die Klein-Karoo, soos dit gedurende die Victoriaanse era en die vroeë 20ste eeu was.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’