OUDTSHOORN NUUS - Alhoewel die handwerkmark wat langs die CP Nel-museum aangebied word, slegs vier maande oud is, bied dit reeds blootstelling en 'n inkomste aan verskeie entrepreneurs.
Vir 10 van die ongeveer 22 uitstallers wat gereeld uitstal, is die verkoop van hulle produkte die enigste bron van inkomste.
"Sommige Saterdae is die mark baie stil, maar daar was ook reeds dae waar ons goeie verkope gehad het," het een van die uitstallers verlede Saterdag gesê.
Die mark vind op die laaste Saterdag van elke maand plaas, maar tydens Desember word dit elke Saterdag aangebied.
Die munisipaliteit het die perseel langs die museum beskikbaar gestel vir die mark en onderneem om dit van hulle kant te ondersteun.
Met die instelling van die mark het die organiseerder, Hannes Visser, die hoop uitgespreek dat inwoners die mark sal ondersteun en sodoende meer mense sal aanspoor om hulle produkte ten toon te stel.
"Terwyl sommige mense handwerk doen as 'n bykomstige inkomstebron, is daar 'n hele aantal gesinne vir wie dit hulle enigste bron van inkomste is.
"'n Mark soos hierdie sal egter slegs werk as die inwoners dit ondersteun.
"Ons nooi ook inwoners om insette te lewer oor die tipe produkte wat hulle graag by die mark sou wou sien.
"Die doel van die mark is om vir entrepreneurs 'n afsetgebied te gee vir hulle eie produkte."
Hy voeg by dat daar versoeke was om kos te verkoop, maar noem dat die fokus van die mark handwerk moet wees.
"Ons wil nie graag voete van die omliggende eetplekke wat oorhoofse kostes het om te dek, wegneem nie en kosverkope by 'n mark bring weer sy eie probleme en uitdagings waarvoor ons nie op hierdie stadium voorsiening kan maak nie.
"Die volgende mark vind môre plaas en is die ideale geleentheid vir laaste Kersinkopies."
Die mark begin om 09:00 en duur tot 13:00.
Skakel 083 467 1522 vir navrae.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'