Die Oudtshoorn Dierewelsynsorganisasie (ODW) het twee bakkies ontvang van Oudtshoorn Nissan en weldoeners het onderneem om die ODW by te staan deur die maandelikse paaiemente van die voertuie te betaal.
Die nie-winsgewende organisasie wat in die lewe geroep is deur Hennie Davel, Henlo Davel en Charmaine Eloff, het reeds op 7 Desember 2012 met werksaamhede begin. Hyundai Oudtshoorn het `n voertuig beskikbaar gestel wat personeel kon gebruik vir tuisversorging van diere wie se eienaars met vakansie gegaan het.
Die ODW se drie personeellede is Magda Da-vel, Joseph la Grange en Yolande Piedt - elk met jare se ondervinding en `n passie vir dieresorg.
Hennie Davel, self `n bekende in dieresorgkringe, vertel dat sy personeel, benewens die gebruik van Hyundai se voertuig, maar meestal op eie stoom oor die weg moes kom. Hulle het veral in die vooruitsig gestel om aktief binne die dorp en ook op die omliggende landelike gebiede te werk.
In Julie vanjaar het Davel 80 plaaslike besighede na die Pearl Hotel genooi waar `n voorstel gemaak is dat besighede maandelikse paaiemente van voertuie kon borg.
"Wat hier besig is om te gebeur, toon die wonderlike gesindheid van die mense van Oudtshoorn wat bereid is om onvoorwaardelik hul hand in eie sak te steek om te help om die ODW op die pad te kry. Hierdie mense is die sout van die aarde en ons is bevoorreg om hulle in Oudtshoorn te kan hê," het Davel Dinsdag by ontvangs van die voertuie gesê.
"Nou het die ODW wiele. Elke erf en plaas binne die Oudtshoorn-distrik sal deur die ODW besoek word en die nodige hulp en opleiding sal aan die diere-eienaars verskaf word. Die ODW gaan aandag gee aan die oorsake van die probleem en nie net die simptome dokter nie. Die hoofoorsaak van die probleem is natuurlik onkunde."
Van links is Magda Davel, Joseph la Grange, Yolande Piedt, Niel Els (Turnberry Lodge), Marlene Colyn (Colyns Vervoer), Hennie Davel (Oudtshoorn Dierewelsyn en Y-Not Eiendomme), Arno Greyling (Nissan), Hennie du Preez (Avondrust gastehuis), Rudi Steyl (Tretsom Tyres), Ferreira Meyer (Cango Woodfired Pizza), Susan White (AIFA), Petrie Davel (Extreme Plumbing), Wilco Benadé (Cashbuild), Andrew Els (Oudtshoorn Huide en Velle), Sarel de Bruin (Oxigim), Kosie Snyman (Karoo Scrap Metal), Philip Goets (Philip Goets Versekeringsmakelaars) en Kobus Theron (Landmark - inlas). Foto: Jacques Swart
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'