OUDTSHOORN NUUS - 'n Geliefde en bekende pilaar in die toerisme-bedryf, Johan Keller (60), is die afgelope naweek na 'n kort siekbed oorlede.
Keller was, saam met sy broer, Viljee, die mede-eienaar van die bekende volstruisskouplaas, Highgate. Hy en sy vrou, Louise, besit ook De Denne Country Guesthouse en Klein Karoo Day Tours wat volstruistoere rondom Oudtshoorn en begeleide toere na die Swartberge aanbied. Hy was die pa van vier kinders.
Louise, sê hy was 'n wonderlike man en fantastiese pa vir sy kinders.
"Hy het vriende oor die hele wêreld gemaak en sy vriendelikheid het mense se harte geraak."
Sy het verder gesê dat hy 'n nalatenskap nagelaat het wat hulle as familie met trots sal voortsit.
Volgens Corleen Barnard, bestuurder van die Oudtshoorn- en De Rust-toerismeburo, dien Keller sedert 2019 op die toerismeraad.
"Hoewel hy eers in 2019 op die raad begin dien het, het hy jare voor dit reeds diep spore in die toerismebedryf getrap. Hy het 'n groot impak op toerisme gehad, nie net in die gastehuis- en toeristebedryf nie, maar ook sporttoerisme waar Highgate die hoofborg van die jaarlikse tweekamp-marathon is."
Barnard beskryf Keller as 'n ware heer wat geglo het in Oudtshoorn en die impak wat toerisme in 'n dorp soos Oudtshoorn kan maak.
"Hy het geweet wat die waarde van bestemmings-bemarking is en het altyd gehelp om Oudtshoorn en die streek te bemark. Hy was altyd gewillig om te help en het graag skoue bygewoon waar Oudtshoorn en die streek bemark moes word. Johan Keller was nie net 'n groot gees in ons bedryf nie, maar ook in die dorp. Ons gaan sy positiewe geaardheid en bydra tot toerisme geweldig mis. Ons dra ook ons innige simpatie oor aan sy familie, veral sy vrou Louise en hulle kinders."
Sy lewensviering vind Sondag 24 Maart om 09:30 by die NG Kerk op Volmoed plaas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’