Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Groot eer het die plaaslike kunstenaar en musiekvervaardiger, Danny B, te beurt geval toe hy vir kykNET se Fiësta-toekennings genomineer is.
Denver Manuel, beter bekend as Danny B, het verlede week die toekenningsgeleentheid in Johannesburg bygewoon.
"Ek het 'n kunswerk ontvang omdat ek benoem was vir Beste Musiekgedrewe Produksie: Buitelug vir die vervaardiging van Rymklets van Oos tot Wes. Eerstens was dit 'n groot eer om benoem te word en was dit 'n voorreg om die geleentheid by te woon.
Tweedens wil ek kunstenaars, wat vir so iets genomineer word, aanmoedig om die geleentheid by te woon. Dit is so 'n spesiale ervaring," het hy gesê.
Hy het in 2017 die Kanna-toekenning vir sy bydra by Rymklets van Oos tot Wes ontvang.
Volgens Danny is hy al sedert 2013 by die Rymklets-produksie betrokke.
"Ek het 2013 net opgetree en sedert 2014 het ek gehelp met die vervaardiging. Die jaar was egter die eerste jaar wat ek die vervaardiging op my eie gedoen het.
"Ek was vir verlede jaar se KKNK verantwoordelik vir die vervaardiging van die produksie en om die kunstenaars wat opgetree het bymekaar te kry.
"Dit is nie so maklik soos mense dink nie. Dit is 'n geweldige groot uitdaging, maar ek het dit vreeslik geniet.
As so 'n geleentheid oor jou pad kom gryp jy dit met beide hande aan, want dit is nie net jy wat groei nie, maar jy kry ook die geleentheid om vir ander 'n platform te skep."
Musiek is al 14 jaar deel van Danny B se lewe, alhoewel hy eers met die skryf van liedjies begin het, het hy vinnig agter gekom dat hy self 'n talent het en het dit begin ontwikkel.
Hy werk ook nou onder sy eie naam, Danny B's Entertainment Production.
Volgens hom wil hy graag ander help om hulle talente te slyp.
"Vir my gaan dit nie oor myself en my eie naam nie. Daar is soveel talentvolle mense daar buite wat eenvoudig nie die geleentheid kry om hulle talente te ontwikkel nie.
Of hulle weet dalk net nie met wie om te praat of hoe om dit te doen nie. Ek is in die proses om werksessies en kompetisies te organiseer sodat ek nuwe talent kan help ontwikkel. Die plan is om ook drama hierby te betrek."
Danny B sê die pad wat kunstenaars loop om vir hulself naam te maak is nie altyd maklik nie.
"Die beste raad wat ek 'n kunstenaar kan gee is om nie moed op te gee nie.
"Gryp elke geleentheid aan, maak nie saak hoe klein dit is of hoe min geld jy daaruit gaan maak nie. Niemand is dadelik 'n sukses nie.
"Almal moet werk daarvoor.
"Klim op die verhoog en perform net." Die ander ding wat toekomstige kunstenaars moet onthou is om altyd nederig te bly.
"Jy raak 'n voorbeeld vir iemand wat ook graag iets in die lewe wil bereik."
ARTIKEL & FOTO: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'