Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Aantal inwoners het voorverlede Maandag by Headlines Restaurant bymekaargekom om die moontlikheid van 'n vlooimark op die dorp te bespreek.
Die groep is positief dat hierdie mark, anders as voriges wat aangebied is, volhoubaar sal wees.
Die vlooimark is die inisiatief van Kobus Minnie wat Maandag se vergadering gereël het en word ondersteun deur Headlines, Xpanda Sekuriteit en National Autoglass.
'n Markkomitee is verkies met Minnie as voorsitter, Booi Nace as ondervoorsitter en Susan Terblanche as sekretaresse. Volgens Minnie word die mark vir die eerste dag van elke maand op die stuk grond agter Spensgoed in Langenhovenweg beplan.
Stalletjiehouers wat reeds aangedui het dat hulle belangstel, maak 'n groot verskeidenheid produkte soos hekelwerk, houtwerk, vetplante, sementpotte, geskenkboksies, rame, bottels, glaswerk, kunswerke, klere, speserye, konfyt, erdwurmkompos, oudhede sowel as verskeie kosstalletjies.
Die eerste vlooimark word voorlopig vir die eerste week van September of Oktober beplan.
As 'n lusmaker vir die projek is daar 'n kompetisie om 'n interessante naam vir die vlooimark te kry. Inwoners kan hulle voorstelle per e-pos aan nagorders@gmail.com stuur. Pryse ter waarde van R3 000 wat deur Headlines Restaurant en Xpanda Sekuriteit geskenk word, is op die spel.
Die sluitingsdatum vir die kompetisie is 31 Julie. Vir enige navrae of verdere inligting, skakel Kobus Minnie by 083 781 5210.
Lees 'n vorige artikel: Inwoners beplan vlooimark
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'