Update
OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit het Vrydag tydens 'n spesiale raadsvergadering besluit om die aanbring van 'n pypleiding vanaf die Blossoms-boorgate in werking te stel, maar dat die aanvra van tenders en die aanstelling van 'n kontrakteur uitgestel word tot 1 Oktober.
Die rede vir die vasstelling van genoemde datum is omdat reën en sneeu vir die volgende twee weke voorspel word wat 'n beduidende invloed op die droogte situasie sal hê.
Op versoek van die ANC en Icosa is ook eenparig besluit dat 'n besoek aan die Blossoms-boorgate so spoedig moontlik gebring word omdat baie van hulle nog nie daar was nie.
Die raad het besluit op 'n topsie wat verlede week deur 'n konsultant van Lyners and Associates/Umvoto aan die raad voorgelê is. Dit behels om die water vir ongeveer 4,1 km met die Kliprivier langs tot by 'n watergat te bring waar 'n pompstasie opgerig en die water vandaar na Oudtshoorn gepomp word.
Die koste hieraan verbonde is net meer as R80 miljoen, geld waaroor die munisipaliteit nie beskik nie en gewag word op aansoeke wat tot die Wes-Kaapse en nasionale regerings gerig is.
Raadslid Johan Fourie, voorsitter van die portefeuljekomitee vir tegniese dienste, het voorgestel dat Umvoto intussen voortgaan met die voorbereidingswerk en ook met Eskom onderhandel vir die aanbring van elektrisiteit by die pompstasies.
Die raad het ook toestemming aan die munisipale bestuurder, Allen Paulse, gegee om 'n dringende vergadering met die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, aan te vra ten opsigte van die aansoek om finansiering sowel as die moontlike bou van 'n dam op De Kombuys in die omgewing van die Kango-grotte.
Rdl. Henry Tyatya (ANC) het sy kommer uitgespreek omdat daar volgens hom nie vinnig genoeg vorentoe gegaan word met die projek nie.
Oor onderhandelinge met grondeienaars rondom Blossoms het rdl. Vlancio Donson die wenkbroue laat lig met sy opmerking dat die raad daarop geregtig is om die grond te vat.
Lees 'n vorige artikel hier: Groenlig vir pypleiding vanaf blossoms
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'