OUDTSHOORN NUUS - Lede van die Garden Route District Municipality (GRDM) het Vrydag die nuwe solarsisteem by De Hoek Mountain Resort buite Oudtshoorn bekendgestel.
Volgens die munisipale bestuurder van die GRDM, Monde Stratu, is die projek deel van 'n groter energiebesparings-inisiatief.
"Ons beplan ook om sonpanele by ons kantore in George, Riversdal en Calitzdorp Hot Springs Resort op te rit. Ons wil ons koolstofvoetspoor verminder en minder afhanklik van Eskom wees. Die hoofdoel is om 100% onafhanklik te wees."
Volgens hom is die program by Calitzdorp nog nie begin nie en is daar tans 'n tender-proses aan die gang.
Passmore Dongi, GRDM se projekbestuurder, het gesê dat hulle tans R45 000 per maand aan elektrisiteitrekeninge vir De Hoek spandeer.
"Ons wil dit, deur middel van die sonpanele met minstens 80% verminder. De Hoek is nie 100% afhanklik van die panele nie, maar dit sal op die langtermyn finansieël 'n reuseverskil maak."
Volgens hom is dit 'n emosionele dag vir almal omdat hulle nie gedink het dat dit sou realiseer nie.
"Ons moet die hoof finansiële beampte bedank vir sy geloof in ons om die projek te laat realiseer en dit wat hy gedoen het om dit te laat realiseer."
Volgens die projekbestuurder, Menno Sulters, is daar ook twee massiewe batterye wat gebruik word.
"Die oord is nie onafhanklik van elektrisiteit nie en word steeds deur beurtkrag geraak. Die plan is om later byvoorbeeld van die ligte aan die solar- en batterysisteem te koppel. Die batterye word gebruik wanneer die panele nie deur die son gelaai kan word nie."
Die burgemeester van GRDM, Memory Booysen, het gesê dat hy wil hê die publiek moet weet van die projek sodat hulle kan sien als gaan nie oor politiek nie.
"Politici is in die posisie om te gee en ons gee. Ons praat nie net oor verbetering nie, ons doen," het hy tydens sy toespraak gesê.
Van links is: Rdl. Jobieth Hoogbaard (GRDM Portfeulje Raadslid: Geboue), rdl. Gert van Niekerk (GRDM onderburgemeester), rdh. Georlene Wolmarans (GRDM Speaker), Rdh. Memory Booysen (GRDM uitvoerende burgemeester), Monde Stratu (GRDM munisipale bestuurder), Passmore Dongi (GRDM projekbestuurder: bestuurder: projekte en geboue) en Menno Sulsters (direkteur en projekbestuurder van Sems Solutions). Foto's: Liezl van Niekerk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'