OUDTSHOORN NUUS - Sy was vir hom ‘n ma-figuur en ‘n omgeemens soos min.
So het Phillip Seroux, projekbestuurder van die Oudtshoorn Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), verlede Donderdag in die Grace Church International tydens 'n gedenkdiens vir wyle brig. Lavona Januari, voormalige bevelvoerder van die Oudtshoorn-polisie gesê.
Die diens is deur die GPF in samewerking met die SAPD gereël en lewendig oor EdenFm uitgesaai.
Januarie is na 56 dae in die Panorama-kliniek in Kaapstad aan Covid-19-oorlede.
Sy het in Maart vanjaar, na 38 jaar in die polisie, met vervroegde pensioen afgetree.
Volgens Seroux het Januari uit haar pad gegaan om die sopkombuis wat hy en sy vrou vir die kinders van Polisiehoogte bedryf, asook ander projekte van die Oudtshoorn Christelike Jeugforum (OCJF) te ondersteun.
Die voorsitter van die GPF, Patrick Blaauw, het in sy huldeblyk, Januari beskryf as 'n vrou van inbors en ‘n diep gelowige mens.
“Sy het ‘n voorliefde gehad om nie-regeringsorganisasies in die gemeenskap te ondersteun en was ‘n spanleier soos min. Sy wou altyd help waar sy kon.”
Twee kerse om Januari se nalatenskap te vier is deur onderskeidelik brig. Nolan Michaels en pastoor Gladys George, polisiekapelaan, aangesteek.
Die een vir haar lewe as lid van die SAPD vir 38 jaar se dienslewering aan haar gemeenskap en die tweede, vir die rol wat sy as ma, ouma en vrou vir haar man gespeel het.
Tydens die gedenkdiens vir brig. Lavona Januari is, van links: Patrick Blaauw, (voorsitter: OGPF), Rachel Delport (ondervoorsitter van OGPF), Miriam Daries, kapt. Beverly Booysen, ao. Shumelia Lewis, ao. Rowena Erasmus, kol. Cynthia Basie, brig Nolan Michaels (SAPD, George), Lelani Boonzaaier (GPF sekretaresse), pastoor Gladys George, Peter Grey, kol. Chris Marnewick, ao. Leila Claassen en Philip Seroux (projekbestuurder van die GPF).
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'