OUDTSHOORN NUUS - Toe dr. Wessel Vermeulen die vrees en vrae op sy kleinkinders se gesigte sien elke keer as daar oor die vreeslike korona-gogga gepraat word, het hy besluit om vir hulle 'n storietjie te skryf om die vrese te besweer.
So het Die Stoute Corona 'n paar maande gelede ontstaan.
Wat aanvanklik net bestem was as 'n boekie vir sy kleinkinders en kennisse se kinders, het intussen tot iets groters ontwikkel. Ronell Lareman, kunstenaar en onderwyser, het die aanvanklike paar illustrasies wat sy gemaak het, uitgebrei en 'n heel nuwe boekie kosteloos uitgelê.
Die taalversorging en redigering van die teks is gratis gedoen en die oorspronklike Afrikaanse storie is in Engels vertaal. Die enigste koste verbonde aan die boekie is die drukwerk wat ook teen 'n spesiale prys gedoen word.
Die eerste oplaag van 200 tot 250 kopieë word waarskynlik hierdie week gedruk en sal teen volgende week bestel kan word teen slegs R30 per boekie.
Inkomste uit die boekie word gebruik om verdere drukwerk te finansier en 'n gedeelte sal vir liefdadigheid aangewend word.
Indien daar belangstelling is en fondse beskikbaar gemaak word kan die storie van Corona ook in Xhosa vertaal word.Die voorblad van dr. Wessel Vermeulen se boekie, Die stoute Corona / The naughty Corona.
Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'