Video
OUDTSHOORN NUUS - Motoriste in die Oudtshoorn-omgewing wat gedink het hulle kan ongesiens met uitstaande boetes, ongelisensieerde- en onpadwaardige voertuie rondry, se dae is getel.
Die provinsiale verkeersafdeling het hierdie week drie splinternuwe voertuie, toegerus met die nuutste kamerategnologie, ontvang.
Volgens Gerald Becker, die Karoo-streek se provinsiale verkeershoof, is die voertuie met kameras toegerus wat voertuie voor en agter die verkeersvoertuig op band vaslê.
"Die stelsel skakel outomaties aan en neem die heeltyd foto's van voertuie se registrasienommers. Sodra 'n registrasienommer gelees word waaraan een of ander verkeerskwessie gekoppel is, kom daar binne 'n aantal sekondes 'n boodskap op die beampte se mobiele handrekenaar deur en dan kan die voertuig dadelik voorgekeer word."
Becker het gisteroggend aan die Oudtshoorn Courant gewys hoe effektief die stelsel is. Binne slegs 36 minute nadat die drie voertuie die beheersentrum verlaat het om op punte buite die dorp diens te doen, het tien moontlike oortreders se bersonderhede reeds op die stelsel beland. Dit was motors waarvan lisensies verval het en selfs 'n taxi waarvan die eienaar nog nie 'n operasionele permit geregistreer het nie.
Kyk 'n video hieronder:
Volgens Becker word die drie nuwe Toyotas nou getoets om enige haakplekke in die stelsel uit te stryk.
Nog een van die voordele is dat die voertuig 'n ent van 'n padblokkade geparkeer kan word en deurentyd inligting van aankomende verkeer aan beamptes by die padblokkade deurstuur.
Dit beteken dat beamptes vooraf weet watter voertuig beslis afgetrek moet word. Die kameras is ook van infrarooi-tegnologie voorsien wat nagbeelde moontlik maak.
Becker sê dat hierdie tegnologie aan al die streke in die Wes-Kaap voorsien word.
"Daar is baie voertuie waarvan die nommerplate onduidelik is. Hulle word ook dadelik deur die kamera opgetel."
Die kameras neem foto's sowel as videos en volgens Becker vergemaklik dit hulle taak baie. "Nou is dit nie meer die woord van 'n beampte teen 'n beweerde oortrede nie, daar is beeldmateriaal wat presies wys wat gebeur het."
Saam met die drie nuwe voertuie het die provinsiale verkeer nog agt ander voertuie. "Dit beteken ons het nou basies 'n voertuig vir elke beampte en ons het ook nog die feesseisoen die hulp van sewe studente wat met padblokkades en ander pligte kan help."
Becker se boodskap aan motoriste is:
"Bly by die padreëls, hou by die spoedbeperkings, wees verdraagsaam en bly nugter." Hy waarsku egter ook: "As jy kanse vat en oortree sal ons jou aankeer."
Provinsiale vekeersbeamptes gister langs die Calitszdorp-pad. Die motor regs is een van die nuwe motors wat met kameras en rekenaartegnologie toegerus is. Van links is: Wendy Maree, Ayrton May (student), Curt-Will October (student), Gavan Winster en Jacobus van der Ross. 'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'