KLEIN KAROO NUUS - Die gemeenskap van Oudtshoorn en Ladismith is geskok na die nuus dat 'n kranige en veelsydige sportman en oudleerder van Langenhoven Gimnasium, Johan Muller (20), in 'n noodlottige ongeluk met 'n vragmotor betrokke was.
Muller, wie se ouerhuis in Ladismith is, was ten tyde van sy dood 'n tweedejaarse forensiese rekenmeesterstudent verbonde aan die Universiteit van Potchefstroom.
Volgens Johan se pa, Gert Muller, was sy seun vanaf Potchefstroom op pad na Ladismith toe die tragiese voorval omstreeks 05:30 verlede Saterdagoggend naby Wolmaransstad gebeur het.
In hierdie stadium is geen begrafnisreëlings nog getref nie omdat die familie die liggaam nog moet uitken en dit nog na Ladismith gebring moet word.
Stephanus Potgieter, skoolhoof van Langenhoven Gimnasium, het Johan as 'n beginselvaste jong man met 'n onkreukbare karakter beskryf wat altyd deur voorbeeld gelei het. Potgieter het Johan se leierseienskap geprys.
"Johan was in sy senior jaar die skool, sowel as die koshuis, se hoofseun en het ook die voorreg gehad om kaptein van beide die o.19A-rugby-en -krieketspanne te wees. Hy sou altyd in sy toesprake sy spanmaats krediet gee alhoewel hy gewoonlik 'n groot aandeel in sy span se oorwinnings gehad het. Op akademiese vlak was hy ook 'n skrander leerder wat met die grootste gemak sy studies en sport gebalanseer het. Sy gelykmatige persoonlikheid, nederigheid, respek wat hy by sy medeleerders afgedwing en die onverskrokkenheid waarmee hy sy Christenskap uitgeleef het, sal sy nalatenskap by ons skool wees. Namens die skool wil ek ons innige meegevoel aan die familie betuig," het Potgieter hierdie week gesê.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'