Video
CALITZDORP NUUS EN VIDEO - Met net bietjie meer as twee ure se slaap oor 'n tydperk van vier dae, en 'n harde stryd teen uitputting in die vroeë oggendure, het die Calitzdorper Gielie Basson (50) Sondag 27 September omstreeks 10:00 sy droom verwesenlik, om 100 ure aaneen te braai.
Basson, eienaar van Zamani Grill in Calitzdorp, het Woensdagoggend, 24 September, met sy rekordpoging begin as deel van Braaidagvieringe, en het uiteindelik die braaitang neergesit nadat hy sy laaste vleisie en mielie van die rooster gehaal het.
Hoewel hy hees en uitgeput was beskryf hy die ervaring as iets wat hom geestelik en fisies tot die uiterste beproef het en iets waarop hy regtig trots is.
Hy vertel dat die moeilikste deel van die braai vir hom die "dead man's hours" was.
Video: Inwoners vier saam met Gielie Basson na hy sy 100ste uur voltooi het.
"Die stil en koue ure tussen 03:00 en 06:00 op Saterdag- en Sondagoggend. "Dit was moeilik om wakker te bly. Ek het gevoel ek gaan sommer daar in die staan aan die slaap raak."
Basson het groot ondersteuning van die Calitzdorp-gemeenskap ontvang. Vriende, familie en inwoners het by Zamani Grill kom inloer en hom aangemoedig deur die nagte en dae wat gevolg het.
Dit is nie die eerste keer dat Basson 'n poging aanwend om die rekord te breek nie. In 2023 het hy vir 84 ure aaneen gebraai, maar dié poging is ongelukkig weens tegniese redes nie deur Guinness World Records erken nie.
Hierdie keer is hy egter vol hoop dat alles volgens die reëls verloop het.
"Ek hoop om teen Desember terugvoer van Guinness World Records te kry. Dit sal wonderlik wees as ons klein dorpie se naam internasionaal erken word," sê hy trots.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’