OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-gholfbaan word dalk eersdaags gesluit weens 'n reeks insidente van misdaad wat konstant oor 'n tydperk van twee jaar by die baan plaasgevind het.
In die nuutste voorval is een van die gholfklub se jong lede vandeesweek oor drie putjies met klippe bestook.
Volgens ’n bestuurslid van die gholfklub moes die jong lid terughardloop klubhuis toe nadat hy twee keer op sy skouer raakgegooi is.
"Die seun se Oupa het hom direk na dié voorval na my kantoor toe gebring om dit te rapporteer. Ek moes met trane in my oë aan hom verduidelik daar is ongelukkig niks wat ek kan doen nie en hom en sy oupa aangeraai om ’n saak by die polisie te maak. Dit breek my om te dink dat ’n kind se liefde vir gholf moontlik geskend is as gevolg van kriminele elemente.
Die onuithoudbare situasie met Hopeville se inwoners, wat direk langs die gholfbaan woon, help ook nie veel nie. Die munisipaliteit kon tot dusver geen datum vir ons verskaf wanneer hulle Hopeville gaan verskuif nie - inteendeel is geriewe vir die nedersetting aangeskaf. "
Volgens die gholfklub se bestuur word bome elke dag vir vuurmaakhout afgesaag en spelers se balle word ook gereeld gesteel.
"Ons sit met ons hande in die hare oor personeel wat weekliks geroof word terwyl kinders met gevaarlik honde hulle gereeld dreig. Selfs ons gras word gesteel. Die afgelope twee jaar het ons reeds duisende rande as gevolg van vandalisme en diefstal verloor. "
Die gholfklub het Dinsdag ’n komiteevergadering met die Suid-Kaap-gholfunie gehad om die voortbestaan van die klub te bespreek.
'n Finale besluit sal 4 Augustus geneem word.
Intussen versoek die gholfklub dat spelers en die publiek enige ongemagtigde persone op die gholfbaan onmiddellik aan die polisie by 079 893 9968 rapporteer.
Die gholfbaan word van vandag voltyds deur twee sekerheidswagte gepatrolleer.
Vroue en kinders word deur die bestuur afgeraai om alleen op die baan te speel.
Enige voorstelle deur die publiek om die Oudtshoorn-gholfbaan weer veilig te maak word deur die bestuur verwelkom.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'