Morné Nel (32), Mervin van Wyngaardt (21), Geraldo Ewerts (40) en Elton van Wyngaardt (27) het op Paassondag in 2015 by die Aloe Aloe restaurant op Groenfontein aangekom en chaos gesaai toe hulle die restaurant met klippe bestook en vir Johan du Plooy, sjef en vriend van die eienaar, Erica Calitz, aangerand het.
Die vier beskuldigdes se regsverteenwoordiger, Eugene Roos van die regshulpraad, het versoek dat die saak uitgestel word vir die getuienis van 'n vrou ter strafversagting. Die vrou wil glo nie sonder haar man na die hof kom nie omdat sy bang is nadat sy glo SMS-boodskappe van Du Plooy ontvang het waarin hy haar dreig om nie te getuig nie.