OUDTSHOORN NUUS - 'n Man wat by 'n huis in GG-kamp op Oudtshoorn ingebreek en talle items gesteel het terwyl die inwoners aan die slaap was, is in die Oudtshoorn-streekhof 5 jaar direkte gevangenisstraf opgelê.
Simphiwe Maduma is aan huisbraak met die opset om te steel en diefstal skuldig bevind nadat hy op 28 Februarie 2016 by die woning van Lindie Thysse ingebreek en onder andere 'n gaskan, selfoon, kruideniersware en klerasie ter waarde van meer as R3 300 gesteel het.
Die selfoon wat Maduma in sy kous versteek het, het gelui terwyl die klaer en die polisie besig was om hom te konfronteer.
Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het die hof vir langtermyn gevangenisstraf gevra omdat dit blyk dat Maduma "uit gewoonte" misdade pleeg. Hy was ook op parool toe hy weer 'n misdaad gepleeg het.
Streeklanddros Daniel Boks het Maduma se algehele ontkenning en dat hy die selfoon op 'n dobbelpoel gewen het verwerp.
Maduma se verweer, dat die goedere deur die polisie en die klaer in sy huis geplant is om hom van die diefstal en inbraak te beskuldig, is ook verwerp omdat sy huis gesluit en hy met die sleutel geloop het.
Die landdros het bevind dat hoewel geen getuie-nis voor die hof gebring is ten opsigte van die inbraak nie, die meeste van die gesteelde goedere in sy besit gevind is en hy nie 'n verontskuldigde verduideliking daarvoor kan gee nie.
"Die hof is dus geregtig om af te lei dat dit die goedere is wat gesteel is."
Diefstal is volgens die landdros 'n voortdurende misdaad en die statistieke is kommerwekkend hoog.
"Die howe moet keer dat lede van die gemeenskap nie die reg in eie hande neem nie. Die beskuldigde is deur die gemeenskap van die GG-kamp aangekeer en hulle wou hom aanrand."
Maduma het nege vorige veroordelings en is al 'n vorige keer lewenslank onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
Vorige middelmatige vonnisse het volgens die landdros nie die gewenste uitwerking gehad nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'