OUDTSHOORN NUUS - Die eienaar van 'n Mercedes Benz wat dié week uit Montagu verdwyn het, is oorstelp dat die polisie haar motor in Oudtshoorn gevind het.
Carina Joubert sê die man wat haar motor gevat het, het Maandag onder die skuilnaam, Dawie Fourie, plek tot Vrydag by haar gastehuis bespreek.
"Dit is 'n vreeslike gawe man. Hy het gesê iemand in sy vrou se familie is siek en dat sy die motor Paarl toe gevat het. Hy het met 'n geleentheid Montagu toe gekom omdat hy besigheid hier het. Hy het Dinsdag gevra of hy my kar kan leen want hy het 'n afspraak wat hy moet nakom. Ek het toe die sleutels gegee en hy is daar weg."
Volgens Joubert het sy en vriende by haar woning 'n vergadering gehad en skielik onthou sy moet nog geld aan iemand gee.
"Die geld was in my kar. Ek bêre altyd kontant in 'n pillehouer want niemand soek ooit vir geld in 'n pillehouer nie. Ek het vir Dawie gebel sodat hy die geld vir my kon terugbring, maar die nommer het nie bestaan nie. Ek het my vriende van die situasie vertel en hulle was oortuig daarvan dat my kar gesteel is. Ek het nogal gesê hulle moet nie bekommer nie, dit is 'n gawe man. Hy gaan terugkom. Toe hy Woensdag nog nie terug gekom het nie het ek die polisie gebel en gesê die voertuig is weg."
Joubert het Donderdagoggend bevestig dat die man nooit die verblyf by die gastehuis betaal het nie en die geld wat in die motor was is ook gesteel.
Die boodskap van die gesteelde voertuig het soos blits op sosiale media en onder polisiebeamptes versprei, wat aanvanklik tot groot verwarring gelei het.
Volgens die boodskap was 'n Mercedes Benz met die registrasienommer CBR 144 soek en die verdagtes was 'n wit man en 'n wit vrou wat swanger is.
Joubert sê egter dat dié persone in verband met 'n totaal onverwante voorval, wat ook in Montagu gebeur het, gesoek word.
"Hulle het nie my kar gevat nie. Daar was glad nie 'n swanger vrou of enige ander vrou by die man nie. Die man wat by my was, was netjies, langerig met ligte hare," het sy verduidelik.
Die motor is Woensdagmiddag in St. Johnstraat in Oudtshoorn gevind, na die plasing op Facebook.
Die foto van die man wat na bewering 'n selfoon by 'n skrootwerf in Oudtshoorn gesteel het.
Volgens die plasing het die bestuurder van die voertuig 'n selfoon by GB's Scrapyard gesteel. Die foto van die bestuurder by die motor is op Facebook gedeel en mense wat toevallig in St. Johnstraat was het die motor langs die apteek opgemerk waarna die polisie in kennis gestel is.
Kaptein Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, sê niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
"Die polisie is steeds opsoek na die man. Montagu-polisie ondersoek 'n klag van gebruik van 'n voertuig sonder die eienaar se toestemming en Oudtshoorn-polisie ondersoek 'n klag van diefstal."
Carina Joubert en haar man by haar motor na sy in Oudtshoorn arriveer het. Foto's: Liezl van Niekerk
Visser sê 'n duidelike beskrywing en foto van die man is nog nie beskikbaar nie, maar het bevestig dat dit 'n wit man met ligte hare is.
Enigiemand wat moontlik inligting oor die man het kan die Oudtshoorn-polisiestasie by 044 203 9000 skakel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'