OUDTSHOORN NUUS - As deel van Vrouemaand het 'n groep nagraadse verpleegstudente verlede Vrydag 'n gesondheidsdag vir vroue in Oudtshoorn aangebied.
Volgens Ivanette Arries, een van die studente, is hulle van Stellenbosch, en wou hulle vroue in die dorp oor borskanker bewus maak.
"Ons het bietjie navorsing gedoen en volgens die statistiek wat ons deurgegaan het, is gevalle van borskanker wat wel aangemeld is, die hoogste in Oudtshoorn."
Die studente het die dag met die tema "Keep the lumps out of the cups" met 'n bewusmakingstaptog begin.
Sr. Liezl Kellerman was die gasspreker en het die vroue oor die erns van gereelde ondersoeke ingelig.
Sy het ook gesê dat vroue wat dink hulle kan nie borskanker kry nie omdat hulle klein borste het verkeerd is en dat mans ook gereelde ondersoeke moet kry omdat hulle ook vir borskanker vatbaar is.
Sr. Liezl Kellerman was die gasspreker van die dag. Foto: Liezl van Niekerk
"Dit is belangrik om jou lyf te ken. Wanneer jy dan iewers 'n knop voel weet jy dit hoort nie daar nie en kan jy vinnig genoeg by 'n dokter uitkom. Kanker kan genees word as jy vinnig genoeg daarop reageer."
Brenda Klaassen het 'n getuienis gelewer oor hoe sy borskanker oorwin het.
Die studente wat die dag aangebied het was Arries, Paul Fourie, Yolandi Marx, Ferdinand Jass, Lorinda Meiring, Muriel Rittels, Anthony le Roux. Hul dosent, Harriet Lemkuhl was ook teenwoordig.
Die studente wat die dag aangebied het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'