Altesaam 37 volwassenes en 44 kinders van Spieskamp het by Schoemanshoek deelgeneem aan 'n program wat gerig is op positiewe ouerskap.
Die dag is deur Famsa Karoo gereël en in samewerking met Trinity Training aangebied.
Met behulp van verskeie aktiwiteite is gesinsaspekte soos kommunikasie tussen ouer en kind, vertrouensverhoudings, ouerverantwoordelikheid en -betrokkenheid, probleemoplossing en die verstewiging van bande tussen ouers en kinders aangespreek.
Volgens Franzu Badenhorst, direkteur van Famsa-Karoo, is dit die eerste program wat vir ouers en kinders gesamentlik gereël is.
"Voorheen het ons dae vir kinders en dae vir ouers aangebied, maar hierdie keer het ons besluit om die twee te kombineer en dit was 'n groot sukses. Dit was wonderlik om te ervaar hoe ouers en hul kinders saamwerk om probleem op te los en saam die dag geniet," het hy Woensdagmiddag gesê.
Die storie van Hansie en Grietjie is in 'n poppekas gebruik om gesinsprobleme soos drankmisbruik en geweld aan te spreek.
Twaalf ouers wat die afgelope nege weke 'n program oor ouerleiding voltooi het, het Woensdag tydens die positiewe ouerskapprogram hul sertifikate ontvang. een van die ouers kon die dag nie bywoon nie. Foto's: Franzu Badenhorst
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'