OUDTSHOORN NUUS - ‘n Deeglike soektog vroeër vandag in die dak van die Edgars gebou in Oudtshoorn, het niks opgelewer nie.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn polisie, is die polisie deur personeel van Edgars ontbied nadat hulle glo iemand in die dakgedeelte van die gebou hoor beweeg het.
Die onderneming was vir meer as twee ure gesluit terwyl lede van die polisie die perseel deursoek het.
Die hulp van die brandweer is ook ingeroep om op die dak te kyk of daar enige tekens van gedwonge toegang tot die gebou was.
Die polisie het omstreeks 13:30 onttrek sonder om enige spoor van ‘n betreder te kry.
Polisievoertuie voor Edgars tydens die soektog na ‘n verdagte wat glo in die dakgedeelte was.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'