PRINS ALBERT NUUS - "Daar is geen bewyse dat geld aan die beskuldigde oorhandig is nie."
So sê die regsverteenwoordiger van Andrew Meintjies, die gewese verkeersbeampte van Prins Albert wat in die Oudtshoorn-streekhof tereg staan op klagtes dat hy toetse vir leerling rybewyse gemanipuleer en rybewyse in ruil vir betaling uitgereik het.
Die ondersoekbeampte in die saak, ao. Jason Pietersen, van die Direktoraat Prioriteitsmisdaad, het verlede week getuig dat 'n middelman, Grant Paulse, wat saam met twee polisie-agente, ao. Alfonso de Leo en ao. Cokwiswa Ralushe, gebruik is in die operasie om Meintjies vas te trek, geld aan Meintjies betaal het om oogtoetse te slaag en leerlinglisensies te bekom.
Hy het onder kruisverhoor toegegee dat hy geen bewyse hiervan het nie terwyl 'n spesiale toestel gebruik is om video-opnames te maak.
Die opnames is in die hof vertoon en as bewysstuk aanvaar.
Volgens Meintjies se regsverteenwoordiger, Mathilda van Niekerk, is Paulse glo 'n persoon met talle vorige oneerlikheidsmisdade op sy rekord en dat hy glo ook voorheen 'n tikverslaafde was. Meintjies sal volgens haar ontken dat hy enige gelde van hom ontvang het.
Pietersen het getuig dat hy nie daarvan bewus was nie.
Volgens De Leo is hy en Paulse deur Pietersen deursoek voordat hulle na die verkeersdepartement op Prins Albert gegaan het en ook met hul terugkoms.
Ralushe het getuig dat Meintjies haar gehelp het met sekere vrae en dat sy "soveel moontlik" verkeerde antwoorde neergeskryf het. Meintjies het dit dan uitgewis en sy het die toets geslaag.
"Almal wat die toets afgelê het, het geslaag," het sy getuig.
Volgens haar is sy saam met 'n onbekende bruin man na die verkeersdepartement en nooit sy naam gevra nie.
Van Niekerk het dit aan die ondersoekbeampte gestel dat dit vreemd is dat die geld wat in die operasie gebruik is, nie gemerk is nie en ook geen opname van die beweerde oorhanding aan Meintjies gedoen is nie.
Pietersen se antwoord hierop was dat die agente wat die spesiale toestelle in hulle besit gehad het nie saam met Paulse na Meintjies gegaan het om geld aan hom te oorhandig nie.
Meintjies is in Maart verlede jaar op Drie Susters deur die Valke in hegtenis geneem en later in die landdroshof op Prins Albert borgtog van R2 000 toegestaan.
Streeklanddros LA Wilkens het die saak verlede week tot 30 Oktober uitgestel wanneer ao Ralushe onder kruisverhoor geneem sal word.
Klik hier vir vorige artikels:
- Voormalige verkeersman se verhoor uitgestel
- Voormalige verkeersman in 2017 verhoor
- Prins Albert-verkeershoof in 2017 verhoor
- Opvolg: Verkeershoof in hof
- Verkeershoof kry R2 000 borgtog
- Opvolg: Verkeershoof in aanhouding
- Verkeershoof gearresteer vir bedrog
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'