OUDTSHOORN NUUS - Die Vollie Museum-komitee van die destydse Onderwyskollege Suid-Kaapland, (OKSK) in Oudtshoorn, het twee gedenkmure en gedenkstene aangebring by die drie geboue waar honderde bruin onderwysers sedert 1952 tot die sluiting van die kollege in 1996 opgelei is.
By De Villiers Primêrl, waar die kollege in 1952 in drie klaskamers begin het, is 'n gedenkplaat bokant die deur van die middelste klaskamer aangebring. Die drie klaskamers is tot die einde van die eerste kwartaal in 1953 gebruik.
Die gedenkmure en -stene is by die huidige Protea Hoërskool en Aurial Kollege opgerig danksy die harde werk van een van die Vollies, Dennis Botha.
Die houtgebou wat tans die Protea Hoërskool huisves, was vanaf die tweede kwartaal in 1953 die tuiste van die Oudtshoorn Opleidingskollege, later die Bridgton Opleidingskollege, tot einde 1965.
Die huidige Aurial Kollege was die tuiste van die Onderwyskollege Suid-Kaapland (OKSK), met koshuis, en voorheen die Opleidingskollege Bridgton, vanaf 1966 tot die sluiting van die inrigting einde 1996.
Dennis Botha by die gedenkmuur op die terrein van die Aurial Kollege waar die koshuis en kollege vanaf 1966 tot 1996 gehuisves was.
Volgens die koördineerder van die projek, Farouk Wicomb, is fondse vir die oprigting van die gedenkmure bekom danksy skenkings van oud-Vollies.
Volgens Wicomb is die komitee nou ook geregistreer as 'n nie-winsgewende organisasie en kan skenkers belastingafslag daarvoor eis.
Die komitee is tans besig om 'n tweede Vollie-boek saam te stel en Vollies word aangemoedig om foto’s en staaltjies vir publikasie te stuur na Farwic2@gmail.com
Vollies wat om een of ander rede nie die gereelde nuusbriewe van die komitee ontvang nie kan ook vir Wicomb kontak.
Die drie klaskamers by De Villiers Primêr waarin die kollege in 1952 begin is.
Foto's: Garnett Wicomb
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'