PRINS ALBERT NUUS - Die vierster-selfsorggastehuis Miller's House in Prins Albert, is Maandagaand ernstig beskadig toe 'n brand in die dak uitgebreek het.
Niemand is beseer nie, en die grootste deel van die huisinhoud kon gered word vanweë die blitsige optrede van dorpsinwoners.
Volgens gaste wat in die huis was, het hulle 'n kaggelvuur gemaak. 'n Rukkie later het die huis vol rook geraak en hulle het besef die dak brand.
Dit blyk dat die metaalskoorsteen oorverhit het. Dit het toe die rietdak – wat met sinkplate bedek is – aan die brand gesteek.
Die gaste moes die huis so vinnig ontruim dat hulle nie tyd gehad het om enige persoonlike besittings te neem nie. Die eienaar van die gastehuis, Gay van Hasselt, sê hoewel die skade groot is, is sy bly dat niemand seergekry het of deur rook oorval is nie. Sy bedank die boere van die omgewing wat na die huis gehaas het en water met hul eie pype uit 'n leivoor en dammetjie naby die huis gepomp het.
"So baie mense van die dorp het daar aangekom en ingespring om te help, nie net om die brand te help blus nie, maar om meubels en ander artikels uit die huis te dra."
Alhoewel die dorp se splinternuwe brandweerwa binne minute op die toneel was, moes dit vyftien minute later die toneel verlaat omdat die tenk van 2000 liter leeg was. Vrae hieroor is aan die munisipaliteti gestuur aangesien dit onduidelik is waarom die brandweerwa die toneel moes verlaat vir water terwyl 'n leivoor reg voor die huis verbyloop en 'n dam skaars 50m van die huis is.
Die beskadigde gebou waar dele van die dak Dinsdagoggend na die brand steeds gesmeul het. Foto: Hannes Visser
Met die oorhandiging van die nuwe en uiters moderne brandweerwa in April 2017 was daar spesiale melding gemaak dat die voertuig oor pompe en toerusting beskik om water uit enige bron naby 'n brand te pomp.
Terwyl die brandweerwa weg was het inwoners tuinslange aangewend om die brand te probeer blus. Dit was in daardie tyd dat boere met pompe en pype opgedaag het en daarin geslaag het om die vlamme te blus en te keer dat die brand versprei voordat die brandweerwa weer opgedaag het.
In reaksie op 'n navraag aan die munisipaliteit het hulle gesê die brandweerwa was besig om smeulende afval op die stortingsterrein te blus toe die brand by Miller's uitgebreek het en daarom was die watertenk nie op kapasiteit nie.
Hulle het egter nie verduidelik waarom waterbronne by die huis nie toe gebruik is nie.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'