Dit blyk dat die eienaar van die hotel, Allen Reddy, wat ook die Pearl of Wildernis en die busmaatskappy SA Roadlink besit in gebreke gebly het om die hotel se huur vir etlike maande te betaal. Daar word beweer dat Reddy die eienaar van die gebou meer as R3 miljoen aan uitstaande huur skuld. Die Pearl se gaste was ook die naweek verontrief toe die hotel se krag weens wanbetaling afgesny is. Volgens 'n werknemer is die agterstallige geld egter vinnig inbetaal en die krag is weer aangeskakel.
"Ons het geen waarskuwing gehad dat die hotel gesluit gaan word nie en ons weet nie wat nou verder gaan gebeur nie."
Volgens hom is personeel ingelig dat die kwessie opgelos sal word en dat die bykans 50 werknemers in kennis gestel sal word wanneer hulle weer vir diens kan aanmeld. Gerugte dat werknemers sedert die hotel se opening in Januarie verlede jaar soms moes wag vir hulle salarisse het gereeld die rondte gedoen. Die werknemer wat bereid was om met die media te praat het egter gesê dat alle werknemers sover hy weet tot op datum salarisse ontvang het.
Gisteroggend was die hotel verlate met net die voertuig van die balju op die parkeerterrein. Die telefoon in die hotel is nie beantwoord nie en Reddy kon nie vir kommentaar bereik word nie.
Sowat 'n maand gelede het gerugte in Wildernis die rondte gedoen dat die balju ook al besoek by die Pearl of Wildernis afgelê het en daar is spekulasie dat ook dié hotel onder skuld gebuk gaan.
Willie Marais, HUB van Aifa, het gister bevestig dat hulle moes rondskarrel om alternatiewe akkommodasie vir 17 studente te kry. Die studente is reeds 'n maand in die hotel en sou nog 'n paar maande daar tuisgaan. Marais het gesê dat hulle aanvanklik 'n groep van 60 student by die hotel sou huisves.
Daar is egter goeie nuus ook. Die Oudtshoorn Courant het gister verneem dat 'n nuwe eienaar reeds met onderhandelinge begin het om die hotel oor te neem. Die persoon het onderneem om volgende week breedvoerig inligting oor sy planne vir die hotel beskikbaar te stel.
Behalwe vir voertuie van die balju se kantoor was die Pearl Hotel gister verlate. Foto's: Hannes Visser.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'