OUDTSHOORN NUUS - Twee inwoners van die Schoemanshoek-omgewing is sedert Woensdag 22 November, in twee fratsongelukke oorlede.
Die gemeenskap, en beide oorledenes se gesinne, is met vele vrae gelaat en in rou gedompel.
Emmerentia Witbooi (40), 'n ma van twee van Spieskamp in Schoemanshoek, buite Oudtshoorn op die Kango-grottepad, is Woensdagoggend, 22 November, oorlede as gevolg van 'n grusame ongeluk op die plaas waar sy gewerk het. Alhoewel sy per ambulans na Oudtshoorn-hospitaal geneem is, is sy weens haar beserings oorlede.
Witbooi was besig om met 'n uiesaad-uitvryfmasjien te werk toe haar arm en gesig na bewering vergruis is.
In die tweede geval het Jan Simmers (56) van Vergelegen, naby Buffelsdrift, Sondag 26 November in die dam, wat byna reg langs sy huis geleë is, beland en verdrink. Simmers het gereeld hier visgevang.
Emmerentia Witbooi. Foto verskaf
Emmerentia Witbooi
Witbooi se gesin was met Oudtshoorn Courant se besoek Donderdag 23 November steeds in skok en getraumatiseer oor wat met haar gebeur het. Haar ma, Sara Witbooi, was byna spraakloos en het met tranerige oë voor haar uitgestaar. Haar dogter het by haar gebly en op die plaas van Jannie Schoeman gewerk.
"Sy was my staatmaker, sy het vir my gesorg," het die bedroefde ma gesê, en herhaaldelik "ek gaan my kind vreeslik mis" gesê.
Volgens Albertus Botha, 'n familielid van Witbooi, wat ook langs haar in Spieskamp gebly het, is die familie glad nie seker hoe die tragiese insident wat tot Witbooi se dood gely het, plaasgevind het nie.
"Ons wag nog vir antwoorde. Al wat ons nou weet is dat dit tussen 08:00 en 09:00 die oggend plaasgevind het. Ons het vroeër die boodskap ontvang dat sy beseer is, en so 15 minute later kry ons 'n oproep van die hospitaal dat die familie moet kom omdat Emmerentia oorlede is," het Botha vertel.
Botha het gesê dat Witbooi 'n baie saggeaarde, nederige mens was wat altyd gedissiplineerd was. Sy laat haar 20-jarige dogter, Brevene, en 8-jarige seun, Ettienne agter.
Volgens die eienaar van die plaas, Jannie Schoeman, was die masjien waarmee Witbooi gewerk het 'n uiesaad-uitvryfmasjien.
"Haar klere het in die as vasgehaak toe trek dit haar in. Die masjien het haar arm afgeruk. Ons het reeds berading vir die ander mense wat gesien het wat gebeur probeer reël. Daar is omtrent vyf werkers wat berading moet kry. Almal was bewus van die veiligheidsmaatreëls rondom die masjien," het hy vertel.
Schoeman het verder gesê dat hy reeds bykomstige maatreëls aangebring het om die werksomstandighede rondom die masjien veiliger te maak. Hy het plate rondom die as, wat Witbooi vasgevang het, gesweis.
"Dis baie swaar vir almal hier op die plaas, dis nie lekker nie. Daar het nog nooit so iets hier gebeur nie."
Sersant Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig dat die Oudtshoorn-polisie 'n dossier vir 'n geregtelike doodsondersoek geopen het as gevolg van die insident wat volgens hom, omstreeks 08:20 plaasgevind het.
"Die vrou het ernstige wonde opgedoen en is na die hospitaal geneem waar sy weens haar beserings gesterf het," het hy gesê.
Tydens 'n kranslegging vir Witbooi op die plaas waar die gru-ongeluk plaasgevind het was daar talle familielede, vriende en kennisse teenwoordig. Almal was dit eens dat Witbooi 'n goeie mens en 'n uitstekende moeder was. Selfs Schoeman was teenwoordig tydens die geleentheid wat deur Oudtshoorn Community Against Crime gereël is. Haar medewerkers het haar as 'n goeie mens beskryf.
Die Wes-Kaapse woordvoerder van die departement van gesondheid, Nadia Ferreira, het op navraag oor die vergruising van Witbooi se arm en gesig bevestig dat sy behandeling by Oudtshoorn-hospitaal ontvang het.
Jan Simmers. Foto verskaf
Jan Simmers
Simmers, ook bekend as Oom Jan, wat al jare lank langs die dam bly, het volgens een van sy vier seuns, Ivan Simmers, die einste dag visgevang en besluit om te gaan swem. Simmers was volgens sy duidelik gebroke seun, Ivan, besig om te swem toe hy moeg begin raak het en onder die water verdwyn het.
Een van Simmers se ander seuns was by tydens die insident. "My broer het vertel dat hy my pa aangesê het om uit die water te kom, maar toe begin hy net te sink. Ek sal nooit weer my pa kan sien nie," het hy vertel. Sy liggaam is eers later deur polisieduikers uit die dam gehaal.
Volgens Ivan was sy pa 'n goeie man by die huis. "Hy het ons altyd laat lag, selfs as ons moeilikheid gemaak het. Hy was altyd die een wat gepraat het in die huis en hy was nooit onbeskof met ons nie. Hy was altyd 'n goeie pa gewees," het hy vertel.
Ivan vertel sy pa was 'n algemene werker by Africamps.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, is 'n dossier vir 'n geregtelike doodsondersoek geopen na aanleiding van Simmers se dood.
"Die inligting beskikbaar dui daarop dat die man in die water was toe hy moeilikheid begin ervaar het. Sy seuns het hom probeer help, maar hy het onder die water verdwyn. Polisieduikers is na die toneel gestuur en die oorledene se liggaam is omstreeks 16:15 uit die water gehaal. Hy is op die toneel dood verklaar."
'n Nadoodse ondersoek sal volgens Spies hierdie week uitgevoer word
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'