OUDTSHOORN NUUS - Die naweek van 28 April tot 1 Mei het 20 oudinfanterieskool dienspligtiges mekaar weer na 37 jaar gesien.
Dié groep het in 1985 hulle junior leierskapskursus in Oudtshoorn voltooi én die Infanterieskool as rugbyspelers verteenwoordig (hulle het ook destyds alle ligas gewen, en die rugbytrofee vir die Infanterieskool se glaskas ingepalm).
Die vriende het van sover as Nelspruit, Rustenburg, KwaZulu-Natal en Pretoria gereis om saam reünie te kom hou. Die samekoms het by die Kleinplaas in Oudtshoorn plaasgevind.
Donderdagaand se verrigtinge het met 'n steakete afgeskop, wat deur hulle destydse rugbyafrigter en sersant, Durelle Marx en sy vrou, Johnita Marx by hulle woning, voorberei is.
Vrydagaand het Henkie du Plessis, 'n oudkorporaal van die groep, almal vir 'n braai op sy plaas in De Rust genooi. Herinneringe van vroeër is gedeel, en daar is lekker saam gelag. Tiekies Renken, nog 'n oudkorporaal en André Britz, rugbymakker en luitenant, het ook later dié aand by die groep aangesluit.
Saterdagoggend het die groep in Parkweg vir 'n foto by die legendariese soldaatstandbeeld geposeer voordat hulle per motor die roete bekend as Vasbyt aangedurf het.
Dit is dieselfde roete wat hulle destyds per voet moes stap.
Dit was heel gepas dat dié groep die naweek se verrigtinge afgesluit het deur die aand saam na 'n rugbywedstryd te kyk, terwyl daar gesels is oor die ou dae.
Die volgende oggend, voordat sommige die lang pad aangedurf het is daar 'n laaste koffie in George gedrink.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'