OUDTSHOORN NUUS - Marie Olivier, gebore Oudtshoorniet, ry al vir die afgelope 30 jaar met dieselfde voertuig.
Sy vertel dat sy die splinternuwe, Ford Laser 1300, op 22 Maart 1993 by die destydse eienaars van Eenstop Ford Motors in Voortrekkerweg, Nico en Bennie Ungerer, vir R36 000 gekoop het.
Volgens haar ken dié voertuig die pad na Laerskool De Rust waar sy 23 jaar skoolgegee het.
Sy vertel dat sy daagliks, vir 11 van haar 40 jare as onderwyseres, van Oudtshoorn na De Rust met die Laser gery het. "Dit is wat tot die hoë kilometerlesing van 332 470 gelei het," vertel sy.
Olivier lag lekker wanneer sy vertel dat sy eintlik 'n bakkie moes gehad het, "As jy weet wat ek al alles in my Fordjie gelaai het, van 'n spannetjie netbalspelers, sooie gras, plante, tot bokse handwerk aanry vir die kerkbasaar," vertel sy.
Sy laat gereeld na die olie en water kyk en die voertuig se dienste is ook op datum.
"Ek soek altyd 'n koelteplek om in stil te hou, en ek was elke Donderdagmiddag self my kar," vertel sy van haar suksesresep tot die voertuig se lang lewe.
Haar vriendin sê net nou die dag vir haar, "Dis 'n prestasie vir Ford, en dis omdat jy vir 30 jaar so mooi na die motortjie kyk."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’