Vir hierdie projek het Famsa Karoo 20 gesondheidswelstandswerkers en 'n ervare gemeenskapsverpleegkundige aangestel wat vir ses maande lank gesinne in Bridgton by hul woonplekke sal besoek.
Tydens die besoeke word voorligting gegee om die gemeenskap bewus te maak van die beskikbare gesondheidsdienste asook hul rol in die instandhouding van hul eie en hul kinders se gesondheid. Dataversameling vorm 'n integrale deel van die groep se aktiwiteite, en die samewerking van die gemeenskap is dus belangrik om by te dra tot die sukses van soortgelyke programme in die toekoms.
Die gesondheidswelstandwerkers neem ook deel aan 'n opleidingsprogram om hulle toe te rus met die kennis wat hulle nodig het om gemeenskapswelstand te bevorder. Tydens die opleiding word aandag geskenk aan vaardighede soos byvoorbeeld toepaslike kommunikasie met alle lede van die gemeenskap. Respek vir mense en die vertroulikheid van inligting, wat verkry word tydens onderhoude, vorm be-langrike boustene van die program.
Gemeenskapslede ontvang dus ondersteuning in die verantwoordelikheid wat hulle dra om hul eie asook gesinslede se gesondheid te handhaaf en te bevorder.
Hierdie belangrike ondersteuning kan uiteindelik weer bydra tot gesonder gemeenskappe in die geheel.
Famsa Karoo, die Eden-distrikskantoor en die gesondheidswelstandswerkers waardeer die Bridgton-gemeenskap se deelname aan die program en vertrou dat hierdie manier van gesondheidsondersteuning individue sal aanmoedig om die raad en leiding, wat hulle ontvang het, te volg en ook om ingeligte keuses te maak.
Die groep gesondheidwelstandswerkers by sr. Hettie Powrie (heel links, verpleegkoördineerder van Famsa Karoo) en dr. Ansie Kotzé (heel regs, projekleier van die Foundation for Professional Development).
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'