OUDTSHOORN NUUS - Wyndham Ewerts is verlede week voorlopig deur Group Editors as waarnemende redakteur van beide Oudtshoorn Courant en Graaff-Reinet Advertiser aangestel.
Sy waarnemende aanstelling volg nadat redakteur Liezl van Niekerk, geboorte geskenk het aan tweelingdogtertjies en tydelik die leisels moes oorgee.
Ewerts is 'n boorling van Oudtshoorn en is vir jare reeds 'n veelsydige koerantman in murg en been wat bekend is vir sy politieke, hardenuus en sportstories.
In 2019 is Ewerts aangewys as die beste sportjoernalis in die streek en was hy ook tydens vanjaar se Eden-sporttoekenningaand 'n finalis in beide die fotografie- en joernalis-afdelings.
Ewerts glo 'n mens moet alles met oorgawe aanpak en jouself nie beperk tot slegs een vaardigheid nie.
"Oudtshoorn en Graaff-Reinet, hulle naburige dorpies en plase het ongelooflik baie stories wat nie noodwendig die koerante haal nie - ek en my span probeer ons bes om die gemeenskap se spreekbuis te wees. Besoek ook www.oudtshoorncourant.com en www.graaffreinetadvertiser.com vir nog meer plaaslike nuus en daaglikse gebeure. Ek is opgewonde om die uitdagings aan te pak wat met die redakteurspos gepaard gaan," het Ewerts gesê.
Vir nuusbrokkies kan lesers Ewerts by 084 025 6698 of wyndham@groupeditors.co.za kontak.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'