SUID-KAAP NUUS - Die sesde Liquorland Erfenistoer vind vanjaar vanaf 23 tot 27 September plaas.
Die Erfenistoer begin en eindig in George na voltooiïng van ‘n sirkelroete van sowat 1 000km deur die Oos-Kaap.
Dit word moontlik gemaak deur Liquorland en gee klublede die geleentheid om met hulle versamelstukke te ry en hul passie te deel met inwoners van die dorpe wat deur die toer besoek word.
Die toer volg elke jaar ‘n ander roete wat geskiedkundige dorpe en ander interessante plekke langs die roete insluit.
Die toer is gewild onder klublede en oumotor-entoesiaste, maar word ook gul ondersteun deur die publiek wat maar net nie genoeg kan kry van die nostalgie na ‘n vergange era wat die ou motors ontlok.
Die Erfenistoer sluit aan by Nasionale Erfenisdag op 24 September, asook die nasionale Toerismemaand in September.
Dit is ‘n verlengstuk en bemarkingsgeleentheid vir die jaarlikse George Oumotorskou wat op 10 en 11 Februarie 2018 plaasvind.
Deur middel van verskeie instansies se betrokkenheid, kan die toerkomitee en die Suid-Kaapse Oumotorklub elke jaar ‘n stewige donasie aan ‘n verdienstelike onderneming maak.
Vanjaar se toerprogram lyk so:
• 23 September: Vanaf George met die R62 na Jeffreysbaai
• 24 September: Vanaf Jeffreysbaai na Addo
• 25 Septembr: Addo na Graaff-Reinet
• 26 September: Graaff-Reinet na Willowmore
• 27 September: Willowmore, oor De Rust, na George
Slegs opbetaalde lede van die Suid-Kaap Oumotorklub mag deelneem en die aantal voertuie word beperk omdat verblyf op sommige oornagplekke beperk is.
Slegs voertuie wat voor Desember 1975 vervaardig is mag deelneem, tensy dit deur die organiseringskomitee goedgekeur word.
Tot dusver neem 42 persone in 21 voertuie, wat die besemwa insluit, wat ook voor 1975 vervaardig is.
“Vanjaar neem net twee voertuie wat voor 1930 vervaardig is, deel, naamlik ‘n 1926 Ford Model T en ‘n 1929 Chevrolet Phaeton,” sê Pierre Olivier, hooforganiseerder van die Erfenistoer.
Die Veteraantoer word op 27 Augustus amptelik van stapel gestuur tydens ‘n geleentheid waar die borge onthaal en bedank word.
Daar is nog enkele plekke beskikbaar en diegene wat gou spring kan vanjaar se Liquorland Erfenistoer meemaak. Kontak Pierre Olivier (082 872 6456) vir meer inligting, of besoek die Suid-Kaapse Oumotorklub se webblad (www.scocc.co.za/events/erfenis-toer).
'Ons bring jou die nuutste Suid-Kaap nuus'