Video
OUDTSHOORN NUUS en VIDEO - 'n 1952 Lister 6-1 CS enjin, opgebou en herstel deur James Williams van Oudtshoorn, het twee eerste plekke by die Wes-Kaapse veteraan trekker- en enjinskou in Villiersdorp verower.
Die skou was van 10 tot 11 Augustus. Williams se versamelaarstuk het hom die eerste prys in die geslote krukasenjin-kategorie en die algeheel bes gerestoureerde enjin op die skou besorg.
Hierdie unieke enjin het stukkie-vir-stukkie se presiese pas- en draaiwerk geverg, om die pryse te wen.
Die Lister CS is deur Arthur Freeman San-ders van die Amerikaanse Stover Lister-enjin, vir Lister in Dursley, Engeland, ontwerp. Die enjins is van 1929 tot 1975 gebou.
Williams het die Lister in 2013 geruil vir 'n flenter perdekar en vyf ou trekkersitplekke.
Williams het lank voor die ruiltransaksie die vernielde Lister-enjin op die plaas Verge-legen, buite Oudtshoorn sien lê. Op daardie stadium kon hy dit nie bekom nie. Die enjin het in 'n skrootwerf beland waar Williams dit herken het.
Steeds was dit hom nie beskore om die enjin huis toe te vat nie, want 'n versamelaar van Prins Albert het reeds aangedui hy gaan die Lister kom haal. Drie weke later het die Lister steeds by die skrootwerf gelê. Dis net daar wat Williams besluit het om die Prins Albert-versamelaar te spreek, met sy flenter perdekar en vyf implementsitplekke as aanbod om te ruil vir die Lister. Die Lister het sy restourasieplek in Van Riebeeckweg gevind en 'n vier jaar proses van bou, pas, herstel en parte soek het begin.
Hy beskryf die pragstuk se kenmerke as, betroubaarheid, effektiwiteit en lanklewendheid. "Dis die beste diesel Lister wat nog ooit gemaak is. Om 'n hele plaashuis vir een uur van krag te voorsien, 'drink' sy net een teekoppie diesel."
Om te wys dit werk, het Williams die enjin aangeskakel. "Sy unieke klank bring heimwee," het hy gesê. Hy het dit afgeskakel en die Oudtshoorn Courant se joernalis na sy nuwe projek begelei. 'n 1912 New Way lugverkoelde enjin wat reg staan om gerestoureer te word.
Kyk 'n video hieronder.
'n 1952 Lister 6-1 CS enjin, opgebou en herstel deur James Williams van Oudtshoorn, het twee eerste plekke by die Wes-Kaapse veteraan trekker- en enjin-skou in Villiersdorp verower.
VIDEO: CHRISTO VERMAAK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'