KAROO NUUS - Elizabeth Klatie, tans woonagtig in die kanaal-omgewing, het vandeesmaand 'n allemintige 103 jaar gevier - 'n indrukwekkende mylpaal as 'n mens in ag neem dat sy selfs die gevreesde Covid-19-virus oorleef het.
Klatie sê dat sy oorspronklik van die Noord-Kaap se wêreld is en baie jare gelede eers na Uniondale en toe na Schoemanshoek verhuis het waarna sy en haar man, wat haar reeds ontval het, na Oudtshoorn getrek het.
Op 'n vraag waarom sy dink die Hemelse Vader dit goed gedink het om haar vir soveel jare te spaar, het sy gesê dat dit kan wees dat sy haar ouers geëer het:
"Die Bybel sê duidelik; eer jou vader en jou moeder en jy sal 'n lang lewe lei. Dan kyk ek ook maar na myself en so aan."
Klatie sê dat sy geen spesifieke dieet volg nie en dat sy enige kos wat lekker is eet, waarvan haar gunsteling, pap en vleis is. Voorts geniet sy ook uitstekende gesondheid en vertel sy dat sy geen ernstige kwale of lewensbedreigende siektes onder lede het nie.
"Nee wat, ek voel nog sommer perdfris en loop nog regop, maak my eie bed op en enige normale huistakies, doen ek alles self," sê sy trots.
Volgens Klatie het sy egter drie weke gelede haar been beseer toe sy geval het en is sy tans in die bed totdat die been heeltemal herstel het.
"Op my ouderdom gaan mens nie dokter nie, want jy mag dalk nooit weer terugkom nie. Ek smeer op die oomblik bietjie salf en so aan, maar die hospitaal sien my definitief nie. Dis vir my lekker hier tussen my mense en my heil is in die Vader se hande. Tot dan hoop ek om sommer nog baie jare my oë elke oggend oop te maak," sê sy.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’