OUDTSHOORN NUUS - Suid-Afrika is besig om homself uit die moeilikheid te kry danksy 'n nuwe president wat die ekonomie verstaan.
Dit was die deurlopende boodskap van Roelof Botha, die bekende ekonoom, tydens die Oudtshoorn-besigheidskamer se gala-aand verlede Donderdag.
Botha was die gasspreker en het van verskeie grafieke gebruik gemaak om tendense in die ekonomie te illustreer. Hy het dit duidelik gestel dat die skade wat deur Jacob Zuma en die mense rondom hom se finansiële plundertog, aan die land aangerig is, miljarde rande beloop en dat dit die land se ekonomie verlam het.
Hy het verskeie voorbeelde gebruik waar oningeligte besluite en beleide die land finansieel gekelder het.
Maar, sê hy, daar is goeie nuus. Volgens hom is hy 'n aardsoptimis wat verby die negatiewe dinge kyk en raaksien wat die afgelope aantal maande vermag is. Botha is oortuig dat president Cyril Ramaphosa die aangewese leier is om veranderinge te weeg te bring juis omdat hy bereid is om na kundiges te luister.
Volgens Botha lê daar nog 'n moeilike pad voor, maar hy glo dat die land se ekonomiese redding daarin lê dat die regering en die privaat sektor moet hande vat en na 'n gemeenskaplike doel streef.
Van die besigheidskamer se kant het Gideon Badenhorst, die voorsitter, sowel as Jaco Vorster, hulle optimisme oor die dorp gedeel. Hulle het na verskeie projekte verwys wat deur die besigheidskamer van stapel gestuur is en wat besig is om goeie vrugte af te werp. Twee van die projekte wat besonder suksesvol is en groot steun geniet is die Trees of Hope-projek, die Ek is Oudtshoorn-projek en die gholfdae wat maandeliks deur die besigheidskamer aangebied word.
Donderdagaand se gala-geleentheid is by De Opstal naby Schoemanshoek aangebied en is deur Nedbank geborg.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'